Tong in die kies oor tuisskool
Iris Saunders
Aanlyn onderrig was van die begin af vir ons almal ‘n uitdaging. Die werklas was dikwels so intimiderend dat dit verskeie reaksies tot gevolg gehad het. Sommige bly sommer net die hele dag lank in die bed. Ander begin met geesdrif, maar wil na enkele minute tou opgooi. Dan is daar die sosiale mediamonster wat ons vasvang en tyd opslurp en natuurlik is daar ‘n hele paar van ons wie se paaie ‘n paar keer te veel met die yskas gekruis het.
Om selfstandig te werk is egter nie iets van die verlede nie. Ons moet steeds probeer om akademies by te hou terwyl ons weke tuis spandeer. Hier is ‘n paar wenke vir die weke by die huis.
Om mee te begin sal dit wys wees om die titel van “wekker” aan ‘n jonger boetie of sussie te gee (as jy een byderhand het). Jonger sibbe is bekend vir hulle luidrugtigheid en hoe vroeg hulle soggens wakker word. Maak seker om vir hulle te sê om nie hulle wakkermaak-poging te staak totdat jy regop staan nie. Hulle kan ook die volgende tegnieke aanwend: watergewere, die steel van ‘n duvet, ‘n dromsolo op kastrolle of ‘n sangitem.
Kies die ruimte waar jy jou akdemiese take gaan verrig met groot sorg. Gedurende ‘n gemiddelde skooldag, bevind ons onsself in rondom agt verskillende klaskamers, maar as ons by die huis skoolgaan, neig ons om by een lessenaar en in een vertrek te bly. Hoe gaan jy jou konsentrasie behou as jou brein nie gestimuleer word nie? Hoe verbeter jy jou produktiwiteit? Kies ‘n vertrek vir elke vak – en wees kreatief. Sit byvoorbeeld voor ‘n boekrak wanneer jy Engels leer en sit in julle oudste stoel vir Geskiedenis.
As dit te ontwrigtend is om heeldag rond te trek kan jy jou lessenaar opvrolik deur ‘n plant daarop te sit. Die plant kan jou geselskap hou tydens die eensame dae en dit kan ook dien as ‘n goeie aanduiding dat dit tyd is vir ‘n breuk. As jy al vir so lank uit desperaatheid na die plant staar dat dit begin lyk of sy jou jammer kry, weet jy dis tyd om op te staan.
Wanneer jy wel ‘n breuk neem, kan jou foon ‘n wrede strik wees wat jou vir ure lank van jou skoolwerk kan weghou. Dit help om ‘n kreatiewe stokperdjie te kry wat nie te tydrowend is nie, maar jou steeds besig hou tydens jou breuke. Dit mag dalk tyd wees om jou breipenne, borduurnaald of verfkwaste op te tel!
Al hierdie harde werk maak jou dalk ‘n bietjie peuselrig, maar jy kan nie al 08:00 jou eerste sjokoladestafie verorber nie. Wat is daar dan om na uit te sien? Pak jou studieversnapperings in ‘n ry. Begin met iets gesond, soos ‘n wortel, en werk geleidelik jou pad oop na appels, yogurt, salami en roosterbrood voordat jy by die sjokolade-gedeelte van jou dag uitkom.
Met al hierdie wenke sal jy sekerlik ‘n meer produktiewe dag hê en jy sal dit makliker vind om doelgerig te bly. As alles skeefloop, het jy darem ‘n plant om mee te praat. En miskien nog ‘n bietjie sjokolade.