Vermaak: op die skerm of op ‘n afstand

Jeanne du Toit

Die koms van Covid-19 het ons almal forseer om ons leefwyses en planne aan te pas by nuwe reëls en regulasies.  Dit is nie meer ‘n vreemde ding om in Checkers in te stap met ‘n masker of om “skool te gaan” in jou pajamabroek nie!

Soos baie mense, besighede en instansies moes kunstenaars ook by die “nuwe normaal” aanpas. Een van die nuwe tendense wat die pandemie meegebring het, is kunstenaars wat deur middel van “livestream”, oor die internet, konserte opvoer.  Dit beteken dat jy in die gemak van jou huis na jou gunsteling kunstenaars kan luister.  Dit is ‘n wonderlike, nuwe inisiatief, want dit pas die reëls van sosiale distansiëring toe en terselfdertyd bereik dit ‘n wêreldwye gehoor.  Almal van – Indië tot Brasilië – kan inskakel om te hoor hoe Miley Cyrus of John Legend sing.

Met verskeie lande wat tans hullle regulasies vergemaklik, is kunstenaars weer besig om konserte op te voer.

Die eerste sosiale gedistansieërde konsert is in Newcastle, Engeland gehou.  Sam Fender, ‘n Britse sanger-liedjieskrywer het by hierdie konsert opgetree.  Familielede het op verhoogde platforms, met klein heinings rondom, gesit.  Hierdie platvorms is oor ‘n groot area versprei en het sodoende die korrekte afstand tussen konsertgangers behou.  Die konsert is deur 2 500 mense bygewoon en 500 platforms is opgestel.  Hierdie sosiaal-gedistansieërde konsert het ‘n positiewe reaksie van aanhangers ontlok.

Die ander, kreatiewe oplossing is “inry konserte”.  Mense parkeer hul motors in rye voor die verhoog en geniet die vermaak en musiek vanuit hul karre.  Keith Urban was die eerste bekende musikant om hierdie nuwe tendens aan te durf.  In Oktober sal kunstenaars soos The Chainsmokers en Gwen Stefani by hierdie “inry konserte” optree.  Verskeie kunstenaars sal ook hul inkomste skenk aan instansies wat bydra tot “Covid-19 Relief”, wat mense wat weens die virus afgedank is, ondersteun.

In Suid-Afrika begin al meer kunstenaars ook hulle vere regskud om weer op die verhoog te staan. Selfs die Gallileo opelugteaters het nou hulle piekniek fliekaande in inryteaters omskep. Konserte in ‘n meer ‘tradisionele’ vorm keer ook binnekort terug. Op 10 November sal kunstenaars soos Live by die GrandWest Casino in Kaapstad optree.  Ruhan du Toit sal ook op 19 Desember in Durbanville optree.  Indien jy lus is om ‘n konsert van jou gunsteling musikant by te woon, nadat jy maande lank by die huis gesit het, is die geleenthede dus hier. Hou net jou oë en ore oop.