Larrie sterre blink op die verhoog te midde van pandemie

Liana Human

Na amper ’n jaar se voorbereiding, harde werk en uitdagings het die One Act Play Festival uiteindelik die planke gehaal. Die fees is virtueel aangebied en gekombineer met Larries Got Talent-optredes.

Ek het ’n onderhoud met Bianca van der Walt, ’n skrywer en regisseuse van een van die One Act Play Festival-toneelstukke, gevoer. Sy het die ervarings en uitdagings wat sy en haar span tydens die proses ervaar het, gedeel.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring! Dit is net jammer daar kon geen toeskouers wees nie.” So sê Van der Walt. Alhoewel aktrises, regisseuses en tegnici baie uitdagings beleef het, het hulle die baie geniet en baie geleer.

Van der Walt sê: “Ek het besef dat die mense agter die gordyn ’n baie belangrike rol speel in die sukses van ’n optrede.” Sy het tot hierdie besef gekom toe die helfte van haar tegniese span ’n week voor die optrede moes isoleer en sy vining ’n plan moes maak om plaasvervangers te kry.

Hierdie ervaring was beslis een wat met baie uitdagings gepaard gegaan het, maar die eindproduk het alles die moeite werd gemaak. Gelukkig was hulle nie alleen nie en het hulle ’n ondersteuningsnetwerk en ‘vangnet’ in die vorm van ondersteunende opvoeders gehad. Van der Walt benadruk die rol wat juffrou Pedro en juffrou Nel in hierdie proses gespeel het en is dankbaar vir die lesse wat hulle by hierdie ervare onderwysers kon leer.

Kaartjies is steeds teen R100 elk te koop. Dit is definitief ’n winskopie aangesien dit jou toegang bied tot al drie toneelstukke en die al die Larries Got Talent-items.

Alhoewel die Covid 19-pandemie baie uitdagings meegebring het, het die betrokke Larries bo die uitdagings uitgestyg, helder op die verhoog geskyn en ’n sukses van die One Act Play Festival en die Larries Got Talent gemaak.