Die liefde klop soms hard
– Bianca Van der Walt
As hedendaagse tieners, is dit algemeen om vir die eerste keer verlief te raak. Dit is egter nie so maklik om te herstel van ‘n gebroke hart nie, veral as daardie hart op jou mou gedra word en aan die wêreld ontbloot word. Die liefde kom soos ‘n dief in die nag en klop aan die deure van die tienerhart– dit klop soms net bietjie té hard.
Volwassenes se woorde aan tieners is: “Jy is te jonk om te weet wat liefde is”, maar die realiteit is egter dat liefde onder tieners ‘n baie belangrike rol speel in die proses tot volwassewording. Met sosiale media wat daagliks groter word, is dit egter nie ‘n verrassing dat die meeste tieners ‘n metgesel aanlyn ontmoet nie. 59% van tieners in ‘n verhouding, is van mening dat sosiale media hulle meer verbind laat voel. Die realiteit is egter dat die gemiddelde verhouding tussen twee tieners slegs drie tot vier maande hou.
Alhoewel daar verhoudings is wat ‘n leeftyd kan hou, is dit algemeen dat tieners ‘n liefdesteleurstelling gaan ondervind. Sommige verhoudings eindig voor universiteit, sommiges eindig wanneer daar besef word hulle op verskillende lewensreise is en ander eindig net omdat daar geen meer belangstelling is nie. Die feit bly staan dat sommige tieners hierdie teleurstelling as oorweldigend beskou.
‘n Liefdesteleurstelling kan net oorkom word deur jouself te laat voel, deur met iemand te praat, deur musiek oor luidsprekers te laat skree, deur hopeloos te veel sjokolade te eet. Elke mens sal dit anders hanteer. Hoërskool is die tyd waar elkeen hulself probeer vind. Of dit deur liefde is, of deur vriende, dit bly steeds ‘n reis vir die individu. Liefde is nie altyd vir tieners soos wat dit in die boeke voorgestel word nie, maar partykeer is dit selfs beter.
Die liefde is kompleks. Dit is nie ‘n wiskundesom of ‘n Taylor Swift liedjie nie. Dit raak mens persoonlik. Elkeen ondervind liefde anders en dus is dit normaal om oorweldig te voel deur ‘n liefdesteleurstelling, want die liefde kan soms klop die deur stukkend klop en jou brose tienerhart aan die genade van die koue Oktoberwind oorlaat.
Net omdat ons tieners is, beteken nie ons weet niks van liefde nie, dus laat jouself voel, want jy gaan elke keer anders voel.