Annemie Nieuwoudt

‘n Skatkis wat oorloop van kosbare herinneringe – dit is die beste beskrywing vir die vyf jaar as  hoërskoolmeisie by Hoër Meisieskool La Rochelle. Of dit ‘n improv sessie in die musiekblok was  gedurende tweede pouse, die saam sing en skree by 4M, die voordrag van gedigte en Shakespeare in  meneer Wolfie Rats se Engelse klas of ons Vicks-sage in die Geografie klas; hierdie herinneringe is die  boublokke wat ‘n jong meisie se gedagtepatroon en karakter gevorm het oor die verloop van vyf jaar. 

Natuurlik was Wiskunde eksamens spanningsvol en het ek my graad ses teorie eksamen gaan skryf  sonder om ‘n enkele oog toe te maak die vorige aand. Ons het hard gewerk, maar ook tyd gemaak om  te speel. Met die skryf van hierdie beriggie, is ek aan twee geleenthede herinner.  

Die eerste gebeurtenis was redelik vroeg in my hoërskool loopbaan. ‘n Nat-agter-die-ore graad nege  leerder het die briljante idee gekry om ‘n deurnag te reël vir die graad. Dit het die dorpies asook die koshuisbrakke ingesluit. Ons het in die saal ‘n tent opgeslaan, en popcorn, lekkers en slaapsakke was  aan die orde van die dag. Dit was ‘n regte “girls just want to have fun” aand en ‘n laataand film wat  regstreeks om tweeuur die oggend begin het, het ons deurgedra tot dagbreek toe. Die film? The Dark  Knight – ‘n Batman sage. Wie hieraan gedink het en waarom ons dit gedoen het, weet niemand tot  vandag toe nie, maar ons het die saal as ‘n span in beslag geneem, en herinneringe op ons harte  gegraveer. Wie wil dan nou nie ‘n aksie film tweeuur in die oggend kyk terwyl jy opgekrul in ‘n slaapsak  lê nie? 

Die tweede gebeurtenis wat ek so goed soos gister kan onthou, het gedurende ‘n September  eksamentyd plaasgevind. Die bouplanne vir die nuwe En Avant sentrum was nog in proses, wat  beteken die grasperk voor die snoepie was oop en beskikbaar om pouse toebroodjies te geniet en om  op datum te kom met leerwerk. As graad elf leerders, was ons egter sielsverveeld en het dus vinnig  aan ‘n alternatiewe nut vir die grasperk gedink. As iemand wat grootgeword het met ‘n broer, was ek  wel bekend met die reëls van rugby en krieket. Daarom is ek die volgende oggend skool toe met my  broer se krieketkolf en ‘n tennisbal. Ons het geboul en gekolf vir die eerste span. Daarna is ons klas toe  om verder te gaan studeer – dankbaar dat ‘n mede Larrie of ruit nie raak- of uitgeslaan is nie. 

Die lekkerste deel van Larrie-wees was om vir ‘n tydperk nog kind te kon wees. Wat ek uit hierdie  gebeurtenisse kon neem, was dat dit is noodsaaklik om balans te handhaaf. Ons lewe in ‘n realiteit wat  daagliks vinniger beweeg en al hoe meer van die individu vereis. Jou mense en verhoudings moet  gekoester en geprioritiseer word. Jy gaan nie weer vyftien jaar oud wees en in ‘n slaapsak op ‘n saal se  vloer lê en Batman saam met jou groep vriendinne kyk nie.