Ek is Anna-Mart (nee Müller) van der Merwe en La Rochelle was my Hoërskool. Ek was 40 jaar gelede in 1986 matriek en koester steeds die mooiste herinnneringe van vriendskappe gesmee en avonture daar geleef. La Rochelle was vir my meer as ‘n skool dit was ‘n familie.
Om van die klein dorpie, Wolseley met sy piepklein aantal leerders te verhuis na La Rochelle was vir my ‘n reuse tree.
Die giggelende dogters in blou blommetjies rokke het my gou laat tuis voel en binne die eerste kwartaal was ek aangepas in die koshuis en skool.
Tuisnaweke was min en ons – wat in die koshuis moes bly – het sommer gou-gou ons eie vermaak geskep. Naweke is die studiesaal omskep in ‘n sokkie jol en almal het mekaar leer dans. Poetse is weekliks gebak en die Geelvrou is beskuldig van al die ‘scarry’ goed wat gedurende die nag gebeur het.
Ons het mekaar se beddens ‘ge-appelpie’ en suiker in die gang gegooi om te kan hoor wanneer tannie Muller met haar hoë hakskoene in die gang begin loop.
Die groot heerlikheid was die Woensdae se La Rochelle poeding en die yskoue selfgemaakte milkshakes van stroop en piesangs opgeklits in ons glase.
Natuurlik was daar ook waaghalsige aksies soos om met hokkiestokke die ontbloter voor die koshuis by te dam. Soms in verliefdheid impulsief op te tree en uit te bank om jou outjie van Boys High te ontmoet. Landbouskool is gebel om te verseker dat wanneer hulle ‘n sokkie het, is ons almal daar!
Skool is geken deur kuns en kultuur en ek het van almal iets geleer. Wenke vir die toekoms en om my drome te bestuur. Ek kon ‘n bietjie sing en die koor het ons na plekke geneem en selfs die televisie nader gebring.
Juffrou Daisy was ‘n merkwaardige vrou met die talent om almal se gesigte en name te onthou. Sy was fier en regop altyd netjies en ‘n voorbeeld vir elke dogter en trotse Larrie.
Juffrou Kern was by verre my gunsteling. Alhoewel sy telkemale my kuif met haar knippies plat teen my kop vasgesteek het. Sy het ‘n perfekte handskrif gehad en lynreguit op die bord geskryf. Altyd op haar tone en sy het gesag afgedwing met een kyk in jou rigting. Dan het jy dadelik jou ruggraat regop getrek, bene toegevou en gehoop sy kyk ‘n slaggie na die dogter agter jou!
Maats het ek baie van gehad en daar was ‘n duidelike onderskeid tussen koshuis en dagskoliere. Ons in die koshuis het beslis bietjie meer pret gehad en ons as vriendekring het steeds na skool bly voortbestaan.
Vandag is ek steeds dankbaar vir die vriendskappe gesmee en koester elkeen. Sommige het letsels van seer, maar dit bring ervaring en wysheid mee. Talle is al Oumas en geniet die kleinkinders met hul eie ervarings en drome.
My eie lewensreis het my na die Universiteit van Stellenbosch gelei waar ek BA in Regte sou studeer. Die registrasie ry was egter dié spesifieke dag vir my ietwat lank. Gou het ek verneem die registrasie ry langs ons was vir BA Maatskaplike Werk en heelwat korter. Fluks het ek daar ingeval en in 1990 my graad in Maatskaplike Werk verwerf. Ek was nie eendag spyt nie. My beroep het my na wonderlike avonture gelei. Dit het ook gehelp met die verwerking van my eie trauma voorheen ervaar, en ek kon ook heling vir baie ander gebring.
In 1991 is ek getroud met my sielsgenoot en liefde van my lewe, Albertus en ons huwelik was geseën met drie blonde kop seuns. Die drie het fluks op mekaar gevolg Januarie 1994, Desember 1994 en Maart 1996. Dit was ‘n besige Mamma wees – tyd.
Die Here het dit goed gedink om ons oudste seun, Andries die ongeneeslike siekte Sistiese Fibrose toe te bedeel. Dit het my ideale en ons as gesin se lewe in een oomblik op sy kop gedraai.
Ek moes my beroep prysgee en huiswaarts keer om Mamma, dieëtkundige, fisioterapeut en verpleegkundige skielik alles in een te wees. Dit was waarlik ‘n daaglikse worstelstryd tussen lewe en die dood.
Vyf-en-twintig jaar en sewe maande van gebed, toewyding, insameling van kennis en ervaring van bonatuurlike wonderwerke het gevolg. Andries het in Augustus 2019 so naby aan die verwisseling van hierdie wêreld vir die hemele die wonderwerk van ‘n dubbele longoorplanting ontvang deur die onbaatsugtige liefde van Lisa Smorenburg wat haar seun, Storm se organe geskenk het na ‘n fratsongeluk.
Ja – waarlik my seun Andries het tereg na die operasie vertel ‘n Storm het sy lewe getref, want nou het hy ook die kans op lewe ontvang.
Die swaar deur ons gesin ervaar lei tot my boek ‘Stilte voor Storm’ / ‘Silence before Storm’. Die skryf van ons verhaal lei tot my genesing en die verstaan om ander met hul pad van heel word te help.
Tans werk ek steeds as Maatskaplike Werker en Trauma berader. Daar het ook ‘n paar ander boeke uit my pen verskyn. Ek hou steeds aan studeer – seker omdat ek so vrek nuuskierig en leergierig is – en het my Doktorgraad in 2023 verwerf.
Die tyd by La Rochelle is een van die wonderlike legkaartstukkies van my lewe wat my verander en gevorm het tot die leef van ‘n vol en dankbare lewe in Jesus Christus. Ek besef elke dag bring Sy genade van lewe – goed of seer – dinge wat ons met ander tot hoop moet deel.
Ek is vandag ‘n baie dankbare Larrie
Anna-Mart Van Der Merwe

Anna-Mart (Müller) van der Merwe

My Klasmaats in 2026

My Familie