‘n Skatkis wat oorloop van kosbare herinneringe – dit is die beste beskrywing vir die vyf jaar as hoërskoolmeisie by Hoër Meisieskool La Rochelle. Of dit ‘n improv sessie in die musiekblok was gedurende tweede pouse, die saam sing en skree by 4M, die voordrag van gedigte en Shakespeare in meneer Wolfie Rats se Engelse klas of ons Vicks-sage in die Geografie klas; hierdie herinneringe is die boublokke wat ‘n jong meisie se gedagtepatroon en karakter gevorm het oor die verloop van vyf jaar.
Natuurlik was Wiskunde eksamens spanningsvol en het ek my graad ses teorie eksamen gaan skryf sonder om ‘n enkele oog toe te maak die vorige aand. Ons het hard gewerk, maar ook tyd gemaak om te speel. Met die skryf van hierdie beriggie, is ek aan twee geleenthede herinner.
Die eerste gebeurtenis was redelik vroeg in my hoërskool loopbaan. ‘n Nat-agter-die-ore graad nege leerder het die briljante idee gekry om ‘n deurnag te reël vir die graad. Dit het die dorpies asook die koshuisbrakke ingesluit. Ons het in die saal ‘n tent opgeslaan, en popcorn, lekkers en slaapsakke was aan die orde van die dag. Dit was ‘n regte “girls just want to have fun” aand en ‘n laataand film wat regstreeks om tweeuur die oggend begin het, het ons deurgedra tot dagbreek toe. Die film? The Dark Knight – ‘n Batman sage. Wie hieraan gedink het en waarom ons dit gedoen het, weet niemand tot vandag toe nie, maar ons het die saal as ‘n span in beslag geneem, en herinneringe op ons harte gegraveer. Wie wil dan nou nie ‘n aksie film tweeuur in die oggend kyk terwyl jy opgekrul in ‘n slaapsak lê nie?
Die tweede gebeurtenis wat ek so goed soos gister kan onthou, het gedurende ‘n September eksamentyd plaasgevind. Die bouplanne vir die nuwe En Avant sentrum was nog in proses, wat beteken die grasperk voor die snoepie was oop en beskikbaar om pouse toebroodjies te geniet en om op datum te kom met leerwerk. As graad elf leerders, was ons egter sielsverveeld en het dus vinnig aan ‘n alternatiewe nut vir die grasperk gedink. As iemand wat grootgeword het met ‘n broer, was ek wel bekend met die reëls van rugby en krieket. Daarom is ek die volgende oggend skool toe met my broer se krieketkolf en ‘n tennisbal. Ons het geboul en gekolf vir die eerste span. Daarna is ons klas toe om verder te gaan studeer – dankbaar dat ‘n mede Larrie of ruit nie raak- of uitgeslaan is nie.
Die lekkerste deel van Larrie-wees was om vir ‘n tydperk nog kind te kon wees. Wat ek uit hierdie gebeurtenisse kon neem, was dat dit is noodsaaklik om balans te handhaaf. Ons lewe in ‘n realiteit wat daagliks vinniger beweeg en al hoe meer van die individu vereis. Jou mense en verhoudings moet gekoester en geprioritiseer word. Jy gaan nie weer vyftien jaar oud wees en in ‘n slaapsak op ‘n saal se vloer lê en Batman saam met jou groep vriendinne kyk nie.


