Annette Geldenhuys (du Plessis) Matriek 1970

My ouers het moeilik aangepas by die lewe in ʼn groot dorp soos die Paarl. Ons Geldenhuys-pa het die eenvoudige lewe as enigste dokter op die sendingstasie Isilimela in die Transkei verruil vir sy nuwe pos as mediese superintendent van Paarl Hospitaal in 1956. Ons ouers se doel was egter duidelik: om hulle 8 kinders die allerbeste skoolopleiding te kon gee. En so het ek en my tweelingsus, Maretha, en ons ouer suster, Elizabeth, Larries geword. Die 5 broers was Gimmies. Ons huis in Thomstraat was naby die skool. Laerskool toe het ons bo om geloop, verby die Vooruitsig-woonstelle waar ons sub A-juffrou, juf. Beyers, gewoon het; verby Gribble se foto-ateljee, verby ons geliefde biblioteek, die Protea-bioskoop, en die verleidelike kafee op die hoek, net voor ons by die skool kom. Uit my laerskool-dae onthou ek talle konserte – sommiges wat ons impromptu in klasverband opgevoer het. Mev. Neethling, ons koorjuffrou, het ons aan klassieke musiek en liedere in vele tale bekendgestel en ons deur talle kooroptredes op baie vreemde verhoë laat glo ons is die beste. Sport was ook baie belangrik. Maretha was die uitblinker in atletiek en ons Cillie-spankaptein. Ek het baie gehou van gimnastiek, netbal en tennis. Ons het tennissette met klein houtrakette gespeel. Ek onthou die doodse stilte die dag op die netbalbaan toe ons hoor dr. Verwoerd is in die parlement vermoor.

Hoërskool toe het ons onder om geloop, verby die Vlotmans se pastorie, die Du Toitstraat-huis waar juffrouens gebly het, en deur die skool se uitgestrekte stuk grond duskant die tennisbane. In ʼn nuwe klasmaat, Lizette Vlotman, het ek ʼn lewenslange vriendin gevind en haar suster, Hannetjie, het jare later my skoonsuster geword, want my broer kon dié oulike pastoriedogter nie weerstaan nie. ʼn Hoogtepunt elke jaar was die CSV-kamp in April op Strandfontein aan die Weskus, waarheen ons klompie Larries met die trein en ʼn bus gereis het. Die CSV-kringe elke week het ons blootgestel aan ʼn ondersoekende omgang met die Bybel, ʼn geleentheid om lewensvrae te bespreek en om later ook as kringleiers geestelik te groei. Ook op kulturele gebied was daar so baie geleenthede om ons lewens-en- wêreldbeskouing wyer te maak. Vir my was die jaarlikse uitstappies na Maynardville se Shakespeare-opvoering ʼn hoogtepunt. Ek onthou ook ʼn groot kunservaring toe ons saam met ons uitsonderlike juf. Kritzinger (alias Rarie) na ʼn uitstalling van Käthe Kollwitz se kunswerke gaan kyk het. Dit was ʼn uitdaging om in die opdrag wat daarna gevolg het, die emosies wat jy ervaar het, te probeer uitdruk en die uitstalling te evalueer. Daar was ook musiekwaarderingklasse waartydens die juffrou die agtergrond van ʼn spesifieke lied, opera of simfonie verduidelik het. As haar stywe lippies jou destyds gekwel het, maak dit vandag nie meer saak nie, want die musiek wat sy daarna gespeel het, is steeds in jou hart.

Ek was twee jaar by La Rochelle werksaam as Afrikaans-onderwyser en kon vanuit ʼn heel ander invalshoek my destydse onderwyseresse as kollegas beter leer ken. Al moes ons in die hitte van Februarie steeds sykouse dra (ja, in 1977!), kon ons darem uiteindelik by die matriekafskeid dans (1978!). Ek het nog ʼn paar jaar ná my troue op Tulbagh skoolgehou, maar toe begin skilder, totdat ek in 2018 besluit het ek wil weer studeer. In 2020 het ek my M.A. aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Vir my doktorale proefskrif het ek Elsa Joubert, een van ons mees beroemde oud-leerlinge, as die onderwerp van my voorgenome studie gekies, met die titel: Reis as tema en metafoor in die egoliteratuur van Elsa Joubert. In haar outobiografiese drieluik (ʼn Wonderlike geweld, Reisiger en Spertyd) is die Paarl, La Rochelle, die onderwysers van daardie tyd, die plekke wat sy besoek het, die strate waar sy met haar fiets gery het, die atmosfeer, die politiek, ja, alles, vir my so bekend. Ek het een dag by die skool se biblioteek deur die jaarblaaie van 1932-1939 geblaai en talle van haar eerste skryfpogings daar gevind. As ek my Ph.D. in Maart 2023 ontvang, sal dit vir my ʼn erkenning wees aan die opvoeding wat ek by La Rochelle ontvang het.

Na 45 jaar as boervrou op Tulbagh, woon ek en my man nou rustig in die mooie Robertson.

Hierdie foto is tydens ʼn Geldenhuys-familiebyeenkoms in September 2022 geneem. 5 Larrie-susters. Voor sit die drie “regte susters”, Elizabeth de Villiers (1965), Annette du Plessis (1970) en tweelingsus Maretha Swanepoel (1970). Agter staan ons twee Larrie-skoonsusters: Hannetjie (Vlotman) Geldenhuys (1969) en Marcelle (Rossouw) Geldenhuys (1963). (Hierdie foto is reeds voorheen op Facebook geplaas.)

Hierdie is ʼn saamgestelde foto van drie Larrie-vriendinne wat steeds saamkuier. Dit was tydens ʼn piekniek by Annette op die plaas in 2017. Carin (Oosthuizen) Lawrie, Annette (Geldenhuys) du Plessis en Lizette (Vlotman) Murray. Ons was in 1970 in matriek.

Die Geldenhuys-tweeling, Annette en Maretha, saam met hulle dogters op hulle 70ste verjaardag in 2022.

Ons musiekjuffrou en koorafrigter uit die sestigerjare, mev. Stalling. Ek het haar in 2015 onverwags weer ontmoet toe sy op Tulbagh by familie gekuier het en by my kunsuitstalling ingeloer het.

Skoolkonsert in die laerskool. Annette en Maretha Geldenhuys as Deense prinse. As ek reg onthou.