Goeie dag, liewe Larries.
As elke Larrie ‘n storie het om te vertel, is dit seker tyd dat ek myne ook met julle deel. Ek het groot geword in Mariental. Toe ek 10 jaar oud was het my ouers pad gevat Republiek toe. Hier het die groot trek vir my begin. Op daardie stadium was my wêreld baie klein. Ek het niks anders geken as sentraal Namibia nie. Woestynvlaktes, afgeleë dorpies en stofpaaie was my beperkte raamwerk van die heelal om my.
My ouers het baie rondgetrek van een dorp na die ander oor die volgende ses jaar van my lewe. Koekenaap, Lutzville, Vredendal, Calvinia en toe Springbok toe. Diepdenkend soos wat enige 15 jarige mos nou maar is, het ek vroeg daardie jaar besef dat ek nie op die regte plek in my lewe is nie. Dat ek groter drome het en dieper ervarings as mens wil beleef.
Dis toe dat ek besluit om eerder my eie pad in die lewe te vind. Ek het my ouers gesmeek om my in La Rochelle in die koshuis te sit. ‘n Vriendin se suster was daar in die skool en koshuis en ek kon my verluister aan haar avonture.
In 1990, sestien jaar oud, het ek toe in my standard agt jaar stoksiel alleen 530 km van alles en almal wat ek ken in my koshuis kamertjie op die tweede vloer ingetrek. Ek was nie net omring deur vreemde plekke en mense nie, maar ek kon nie eers ordentlik Engels praat nie. Ek spot altyd en sê ek kon net “I love milk” sê en het nie eers geweet wat dit beteken nie. Woendae se dorpstye het ek toe maar in die dorpsbiblioteek spandeer en begin lees. Ek het ook ure spandeer om te skryf. Briewe natuurlik, vir my goeie vriende, my ouma in Malthahö en soms sommer net versies wat in my kop opgekom het. Die naskok van die besluit om my vlerke uit te span was groot, maar die uitdaging van nuwe dinge verslawend. Ek het vinnig nuwe vriende gemaak. Mense wat tot vandag toe nog ‘n rol in my lewe speel. In my matriek jaar, 1992, was ek toe gekies as Hoofmeisie van die koshuis. Tannie Visser was vir my soos ‘n tweede ma. Sien foto – ek het haar in 2018 in Wellinton laas raakgeloop.
La Rochelle het beslis van my ‘n onafhanklike vrou gemaak. Na skool kon ek dinge aanpak en ‘n sukses maak van alles wat ek aanraak. In 1996 het ek by Health and Racquet in Stellenbosch begin werk as ‘n tydelike ontvangsdame. Wanneer my vier ure skof verby was het ek in die administrasie kantoor my gratis hulp gaan aanbied. Toe daar ‘n voltydse pos oopgaan, het ek dit gekry omdat ek reeds die werk kon doen. Tien jaar later het ek as finansiële assistent vir die Ontwikkelingsdepartment gewerk. Ek het myself as aankoopbestuurder gekwalifiseer en toe verander alles weer.
Ek moes eers my loopbaan prysgee om my twee pragtige dogters, Lucca en Caitlyn groot te maak. Weer het ek besluit om eerder my eie ding te doen en so het Blue Mountain Events toe begin. Mensalleen het ek ‘n funksie besigheid op die been gebring. Die plan was om dit net deeltyds te doen terwyl my kinders nog klein is, maar drie jaar later het dit so besig en groot geword, dat ek skaars tyd gekry het vir my kinders. Weereens moes ek dit prysgee om voltyds mamma te wees. Ag, wat ‘n wonderlike ervaring was die nie om die lewetjie wat binne jou gegroei het vir nege maande, mens te sien word nie.
Maar daar is mos maar altyd ‘n maar in enige iemand se storie. In 2016 het ek weer my ou versies afgestof en gedigte begin skryf. Sommer net om weer iets vir myself te doen. Ek het by ‘n paar Facebook digblaaie aangesluit en oornag een na die ander prys begin wen.
Maar, in 2017 besluit my man dat hy eerder groener weivelde wil gaan soek. Ek het net aanhou skryf. In 2018 het ek ‘n groot digkompetisie gewen en word toe genooi om Johannesburg toe vlieg vir ‘n glansaand en prysuitdeling. So het hierdie digreise toe ‘n jaarlikse instelling geword. Van my gedigte is op Litnet, ‘n hele paar digbundels en ook in tydskrifte gepupliseer. Ek het ‘n rak vol glas trofee en ‘n digblad met meer as 1000 lede; genoem Nimfoleptiese Woorde op Facebook.
Maar, in Junie 2021 het ek op ‘n mooi wintersoggend vir Caitlyn skool toe gevat. Op die stadium het ek as eiendomspesialis begin werk en woon in die mooie Riebeek Valley. Kwart oor 7 daardie oggend het ‘n ander voertuig sonder waarskuwing op ‘n oop reguit teerpad teen ‘n hoë spoed reg voor my ingery. Die feit dat ek oorleef het is ‘n wonderwerk. Om Caitlyn se lewe te red moes ek met my uitdraai poging die motor so draai dat die impak op my kon wees. Caitlyn het gelukkig net ‘n beentjie in haar linkervoet gekraak. Ek was in ‘n uur en ‘n half vasgevang in ‘n afgeskryfde motor met gebreekte voete, vergruisde knie, gebreekte heup en gekraakte rug en ‘n long wat platgeval het. Tyd het letterlik tot stilstand gekom vir my. Ek was oortuig daarvan die die engele by een of ander groot hek my met ope arms gaan verwelkom. Ek was vir maande plat op my rug. Met die hulp van dokters en arbeidsterapeute kon ek agt maande later darem weer sonder krukke stap. Dis nou twee jaar na die ongeluk. My lewe het onherroeplik verander. Ek gaan nooit weer kan draf, fiesry, ballroom klasse neem of boks-sessies in die gym geniet nie. Daar wag nog ‘n paar groot operasies en fisies sal ek nie weer alles kon doen wat ek voorheen gedoen het nie, maar ek leef.
As mens eers dood in die gesig gestaar het, verander jou hele uitkyk op die lewe. Dis wat ek nou elke dag saam met my dra. Ek deel ek dit graag met my Larrie gesin:
Fluit, fluit, my storie is eers uit. Mooiloop Larries.
1992 Matriek afskeid
Caren Barnard
Sept 2022 - 30 jaar later
Tannie Visser