Ek onthou die Januarie-oggend toe my ouers my by La Rochelle gaan inskryf het. Ek het ’n ligblou kerkrok met ’n satynlint om die middel en swart bandjieskoene met wit sokkies aangehad. Pure dogtertjie!
Ek en my ouers het by die swart hekke waarop La Rochelle staan, ingestap. Voor my was die skool se oop dubbelvoordeur met koperknoppe. Daaragter kon ek die breë houttrap sien glim. Ek het by die punt van die trap gestaan. Op die drumpel van ’n nuwe begin. Ek was opgewonde. Soos net ’n dertienjarige kan wees. Juffrou Le Roux het agter haar lessenaar uitgeskuif en haar hand na my uitgesteek. Ek was amptelik ’n Larrie.
Die hooftrap was ’n onverstoorbare teenwoordigheid in elke skooldag. ’n Vaste middelpunt in dae vol wipplank-tienerwees.
Ons het in rye op en af met die breë trap gestap. Op – na ons Afrikaanse klas by juffrou Le Roux. Af – na juffrou Kern se Duitse klas. Of, in ons matriekjaar, ek en Annette uit by die voordeur om die vlae voor die skool te hys. Die trap was prominent. Die stil getuie van die ops en afs van elke skooldag.
Sonder dat ek bewustelik daaroor nagedink het, het die trap vir my simbool van die lewe self geword. Van opkyk. Van boontoe reik. Van nuwe moontlikhede ontdek. Van nooit stagneer nie. Van bly glo in môre.
By La Rochelle se prysuitdeling in my matriekjaar (1970) is die oud-Larrie, Elsa Joubert, die gasspreker. Die tema van haar toespraak is Drome. Sy sê onder meer: “’n Sinoniem vir droom is ideaal. Dit is die suiwerste vertolking van jouself en dit moet ’n mens vind, want daarsonder kan jy nie lewe nie.” Sy sluit af met die woorde: “Daarom moet ’n mens vashou aan die droom, aan daardie iets wat eie aan jouself is.”
Daardie aand oorhandig Elsa Joubert die Heléne Loubser-medalje aan my. Daarmee saam gee sy vir my ’n droom. ’n Lewenslange strewe om dit wat die medalje versinnebeeld uit te leef en telkens terug te kom na die basiese waardes waarvoor dit staan: die uitlewing van christelike naasteliefde, nederigheid, vergifnis, integriteit.
In November 2013 besoek ek en Lizette Rabe (ook ’n oud-Larrie en hoof van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch) Elsa Joubert in haar woonstel in Berghof, Kaapstad. Haar skerp intellek en onversadigbare drang na nuwe kennis en insigte bring my tot die besef dat sy – ten spyte van haar hoë ouderdom – steeds droom.
Kort voor haar 90ste verjaarsdag in 2022 kuier ek by juffrou Le Roux, my oud-skoolhoof, en self ’n oud-Larrie. Ek word getref deur haar menslikheid én medemenslikheid, die manier waarop sy met oorgawe luister en belang stel in die wêreld rondom haar. Alhoewel sy nie meer goed kan sien nie, het sy steeds ’n onblusbare smagting na kennis. Op haar tafel lê die koerant. Uit haar boekrak haal sy haar swart notaboekie waarin sy al die boeke wat sy graag nog wil lees, aanteken. Ook sý droom nog, besef ek.
Dis wat La Rochelle meer as 150 jaar reeds doen. Rondom die statige middeltrap word geslagte lank reeds jong vroue gevorm. Vroue wat kan boontoe kyk. Vroue wat kan reik na die skynbaar onbereikbare. Vroue wat die sterrehemel as plafon het – maar steeds geanker bly in die vaste waardes van Die Klein Rots.
En Avant!
Lizette Murray (Vlotman)