Dit is Januarie 1953. My ma help my om my hare in twee netjiese vlegsels te vleg. Vandag is groot dag, want dit is my eerste skooldag aan Hoër Meisieskool La Rochelle. Ek het my splinternuwe, wit rok aan. Dit was nog voor die tyd van die blou blommetjiesrok. Terwyl my ma twee wit linte in my hare strik, sê sy:
“Sussie, Pappie en ek verwag baie van jou. Jy moet met ordentlike dogters maats maak en jy moet nooit jou ore uitleen aan lelike praatjies nie. Loop net weg.“
“Goed, Mammie,“ sê ek.
“En“ gaan sy voort, “leer om mooi stil te sit in die klas.“ My ma was my onderwyseres in standard drie en sy ken my.
My hart bons van opwinding. My splinternuwe fiets staan reg op die agterstoep. Met vier broers en ‘n laat-sussie, gaan ek nou baie meisiemaats maak.
Ek plaas my nuwe, bruin skoolkoffer op die “carrier“ agter die saal. Saam met my broers stoot ons die fietse van die trappe af. Ons ry op-op met Lady Greystraat en draai links in Hoofstraat. My twee oudste broers ry by Gimnasium in, (dit was toe ‘n hoër- en laerseunskool). My broer, Vosloo, twee jaar ouer as ek, ry saam met my tot by La Rochelle. Hy skiet weer haastig op terug Gimnasium toe.
Ek parkeer in die fietshokkies en loop na die hoofingang. ‘n Mooi, langbeen blonde meisie kom na my toe.
“Is jy nuut?“ vra sy. Ek knik.
“Ek is Elsa Wolfaard. Ons is dan saam in standerd ses.“
“Ja, ek‘s Louise Bekker.“
“Laat ek jou ´n grap vertel,“ gaan sy voort in ‘n gesellige stem met ‘n ligte brei-aksent. Sy vertel daar ‘n heerlike, pittige grap. Ek kyk na haar en begin dink:
“Moet ek wegloop of nie? Nee, dis oukei, en ek begin ontdooi.“
Die klok lui. My eerste skooldag het begin! Die saal is klein en ons sit op die vloer. Die personeel kom binne en neem plaas op die stoele op die verhoog, voetjies netjies bymekaar. Heel laaste betree die skoolhoof, mej. A.C. Grundlingh, die verhoog. ‘n Regop, skraal, stil figuur geklee in ‘n effekleurige rok en bypassende skoene met medium, stewige hakke. Haar bynaam is Pluto – die verste planeet – vind ek later uit. Maar in die vyf jaar tot by matriek het haar planeet al hoe nader beweeg.
Ek en Elsa beland in dieselfde klas. Ek sit doodstil met die twee groot strikke in my hare wat soos skoenlappers wil vlieg. Na die eerste week kom Elsa en nog twee gawe meisies, Dalena Kirsten en Mimmie Hamman, na my toe. Dalena is die woordvoerder: “Louise, ons drie het besluit ons wil met jou beste maats maak.“
Ek glimlag verruk, want ek hou ook van hulle. Daar begin ‘n vriendskap wat tot nou nog duur. (Mimmie het tragies in ‘n motorongeluk gesterf op nege-en-twintigjaar.) Ons vorm ‘n bende, die D.E.L.M.-klub, die voorletters van ons name. Ons doen alles saam, gesels oor die lewe en bespiegel oor die eerste soen. . .
Nooit was daar ´n skewe woord tussen ons nie, net lojaliteit en pret.
Ek is in my element: David Botha, die vername kunstenaar, kies my en nog twee ander standerd sesse om kuns as vak te neem. Ek neem ook musiek by juffrou Hugo. Langs ons standerd ses-klas, is daar ‘n klein lokaal. Daar neem ek drama by die Akademie van Drama en Kuns (A.D.K.) Ek gedy in al die kunsvorme by La Rochelle. Dankie, La Rochelle!
Maar… ek veroorsaak ook probleme. Ek kan nie stil sit nie en word dikwels uit die klas gestuur en dan staan ek in die gange. Elsa, die platjie, het ook skuld daaraan. Sy stuur vir my briefies: “Doen iets sodat ons kan lag.“ Dan doen ek iets. Ek onthou eenkeer het ek kamma van die bank afgeval, kaplaks! En bly lê op die vloer.
Juffrou Grundlingh sien my gereeld in die gang. Ek wag vir ‘n skobbering, maar nee, sy gee ‘n skewe glimlaggie en loop stil verby. Later begin sy my kantoor toe te roep. Dit word ‘n gereelde sessie en ook al hoe lekkerder. Net links van die kantoordeur, as jy inkom, het ‘n afdruk van Vermeer gehang, die vrou met die tulband. So mooi.
Eendag met ‘n kantoorsessie sê juffrou Grundlingh: “Louise, ek dink jy moet, voor jy skool toe kom, vier keer om jul huis se blok hardloop om van jou energie ontslae te raak.“
Wel, ek is op pad na 83 en het nog net so baie energie – genoeg vir Eskom.
En dan die hoogtepunt. Skoolkonserte! Juffrou Grundlingh het een nog self geskryf: “Die fases in die lewe van ´n vrou.“ Of so iets. Elke keer kry ek ‘n groot rol. Sy help ook met die afrigting.
Juffrou van Velden, ons liggaamsoefening-onderwyseres, is ‘n klein mensie met besondere gawes. Sy reël ‘n groot skouspel van ritmiese bewegings op die sportgronde, langs die skool. Die paviljoen is gepak van opgewonde ouers. Klas vir klas in kort rokkies – ek dink in skool kleure – verskyn ons op die veld. Die regop klavier van die saal staan op ‘n podium. Ons beweeg in ‘n eenheid op maat van musiek, swaai hoepels en vorm piramides terwyl juffrou Van Velden klavier speel. Ek onthou nog een van die wysies – ‘n mars. Ek het dit by die huis geoefen tot ek dit kon speel. (Miskien is die opvoering op film vasgelê – swart en wit natuurlik.)
In die Biologieklas vertel juffrou Annetjie Jooste ons van Halley se komeet. Dit verskyn elke 76 jaar. “Meisies,“ sê sy, “dit gaan weer in 1986 te sien wees. Dit gaan ‘n belewenis wees. Julle moet dit probeer sien.“ Ek was veertienjaar oud en in standerd sewe toe sy dit gesê het. Ek werk toe uit. Wanneer ek ses-en-veertig jaar oud is, gaan dit verskyn. 1986 breek aan. Ek en my dogter, Corneli, amper tien, sit in ‘n spesiale vliegtuig die nag om Halley se komeet beter te kan sien. Wat ‘n belewenis!
Paarl is ook ‘n kultuurdorp. My ouers het seisoenkaartjies vir al die kultuurbedrywigheid in die stadsaal gehad. Gereeld is ons daar – ouers en ses kinders. Dit was opwindend! Ballet van Kaapstadse Universiteit, toneel, simfonie-orkes. En as Paarl se stadskoor, met Aldert du Toit as dirigent, sing, is my pa, Vosloo Bekker, die begleier op die pragtige vleuel. Ek sien juffrou Grundlingh ook gereeld daar.
In my matriekjaar, 1957, neem die skool ons per bus op uitstappies na, onder andere, die huis van Maria Koopmans de Wet. Sy was ‘n formidabele vrou van die vorige eeu wat selfs Koningin Victoria op haar plek gesit het. Ons bus stop voor die woning in Strandstraat, Kaapstad. Ek wip eerste uit die bus en hardloop die trappies op na die boonste verdieping verby die swaar antieke meubels. Ek gooi die middelvenster bo die voordeur op. My maats klim nog uit. Ek hang by die venster uit en met wye arms deklameer ek in my beste Nederlands: “Van harte welkom, Larries! Ek nodig je allemaal uit voor heerlike cake, taart en thee!“ Lag, lag storm hulle die trappe op.
Einde van die jaar het ons almal – al vier-en-tagtig – matriek geslaag. Daar was wel een dowwe ster in die firmament. Die Wiskunde-onderwyseres van standard agt tot tien wat dit so koud en sonder verbeelding aangebied het. Ons het doodstil sonder entoesiasme in die klas gesit.
La Rochelle het ons gevorm tot volronde burgers. En die rede? Die standaard van ´n skool kan nie hoër styg as die peil van ‘n skoolhoof nie. Die geheim van Hoër Meisieskool La Rochelle is die uitstaande skoolhoofde!
Dankie, juffrou A.C. Grundlingh, wat ons almal met respek en begrip behandel het. Juffrou Grundlingh, u was nie Pluto, die verste planeet nie. U was Venus, ‘n helder, nabye ster.