Lunelle van Niekerk (Arendse)

Ek sou my Larrie-Storie ‘n onreg aandoen sou ek nalaat om melding te maak van die feit dat ek deel was van die eerste groep bruin leerders wat in 1992 toegelaat was om deur die hekke van La Rochelle te stap. Met die aanloop tot daai dag onthou ek nie veel nie, maar wat ek wel onthou is dat my maag die eerste dag of liewer die eerste paar dae behoorlik gedraai het…dit was nie nét die oor gaan van een skool na ‘n ander nie…dit was veel groter en dieper. Ek(ons) het ‘n onsigbare maar tóg tasbare grens oorgesteek…a step into the unknown…iets nuuts is gebore…

Dit was HUGE. Nie net vir ons wat van die anderkant van die rivier afgekom het nie, maar ook vir die leerders en onderwysers wat ons moes ontvang…ek besef met hierdie skrywe dat ons eintlik trailblazers was en as’t ware aktief deel was van transformasie – die hele lot van ons (alle leerders en onderwysers). Wat ‘n voorreg…

Die proses om mekaar te leer ken was ‘n interessante, maar tog lekker gedoente. Ons was pioniers en ons het ‘n nuwe landskap verken…kulture, taal en ander minder opsigtelike nuances. Vooropgestelde idees moes eenvoudig eenkant toe staan, want in die warboel van mekaar ontmoet was daar nie nog plek of tyd vir ou koeie uitgrawe nie.

Ek moes besluit: Praat ek Afrikaans, AfriKaaps, Engels of Mengels? Gaan ek my “r” in Engels rol of nie? Artikulasie, uitspraak…dit was regte egte besluite, want die “peanut gallery” buite die mure van die skool het skepties en veroordelend gestaan, geluister en gekyk. Maar, die ergste stof van hierdie nuwe pad het gaan lê, ons het tot rus gekom en toe begin die avontuur.
La Rochelle was goed vir my….

Ek is nie in die wieg gelê vir sport nie. Dank Vader dit was nie verpligtend nie, want ek sou verseker snot en trane getjank het, maar ek’t darem vir kleuresport bietjie diskus gaan gooi en 400m (of was dit 800m) geshuffle…dit was maar ‘n situasie van “eervolle vermelding”. Maar musiek…aaah…musiek was my happy place en space en La Rochelle het hordes geleenthede gebied om hierdie gedeelte van my wese te voed…koor, kamerkoor, individuele sang, klavier en ‘n paar buitemuurse musiek-dinge. Ek onthou die koshuiskinders het altyd na rys, vleis en aartappels geruik wanneer hulle by die oefening opgedaag het.

La Rochelle het my geleer om drukkies en komplimente te gee en om op te staan wanneer ‘n onderwyser verby jou loop. Hierdie gewoonte het saam met my Universiteit Wes-Kaapland toe gegaan en my tjommies moes my aftrek en daaraan herinner dat ons nie meer op skool is nie. Hahahahahaha!
Juffrou Rossouw het Tik aangebied (nie daai soort TIK nie. Typing bedoel ek). Ek’t ‘n scandalous “F” gekry, maar ek sit hier en tik steeds met al tien vingers sonder om op my hande te kyk. Wêla!

Juffrou Potgieter het ook krulhare gehad nés myne and that crushed my belief that all white people have straight hair. Dit was ‘n MAJOR discovery. Regtig. Anyway, ek’t altyd hard en duidelik my Skeinat in die klas verstaan, maar ai tog, wanneer eksamens en toetse gekom het, het my EUREKA oomblikke my sommer netso, soos ‘n warm patat gedrop. Oh well…C’est la vie soos die Franse sou sê…that’s life or at least that was my life.
Jufffrou Irma de Villiers het haar uiterste bes gedoen om ons goed bang te praat wanneer sy met intense gesigsuitdrukkings en kleurvolle taal verduidelik het hoe jou skaambene van mekaar af trek wanneer jy “normaal” moes geboorte skenk. Ek vermoed daar was method agter haar zeal, want op een of ander manier moes sy die spul meisiekinders van allerhande stoute dinge weerhou.

Juffrou Goosen: Die passievolle Geskiedenis onderwyseres. Ek het eenvoudig nie insig in dié dinge gehad nie. Ek onthou ‘n “coup d’état” is ‘n staatsgreep,maar ek weet nie regtig wat dit beteken nie. Ek onthou uMkhonto weSizwe beteken “Spear of the Nation” en hulle was die millitêre vleuel van die ANC, maar dis waar dit stop. En dan was daar die vroue met kaalvoete en ossewaens wat oor die berg moes trek. I just could not connect the dots. Information without insight. Dit was eers nadat ek PG du Plessis se boek, “Fees van die Ongenooides”, gelees het dat die insig in daai gedeelte van ons land se geskiedenis begin gestalte kry het. Regte (fiktiewe) mense. Dialoog. Emosie. Toe eers het die ligte aangegaan, maar heelaas was die ink op my eksamen antwoordblad laaaankal droog.

Juffrou Janse van Rensburg…die blouste blou oë, geset in ‘n fyn gesiggie, wipneus en die pefekte kleur lipstiffie. Dis so random, maar ek onthou die verwysing na Inacia Maria se “wit, plomp arm” in Bonga geskryf deur Elsa Joubert. Juffrou Janse van Rensburg was gedruip in Afrikaans. Juffrou, ek’s steeds nie ‘n poësie liefhebber nie. Dis té hoër graad vir my maar, ek’t tóg ‘n liefde vir Afrikaans ontwikkel. Dalk nie suiwer nie, maar ek waardeer en respekteer my eerste taal en ek is trots Afrikaans.

Ek onthou vir Iago in Othello…die pestilensie. Ek onthou vir pi-radius-kwadraat, sin-cos-tan, Phylum Platyhelminthes (Lintwurm), Amoeba, Hydra, Medulla Oblongata en van stroombane wat in serie of parallel gekoppel kan word. Ek onthou die Prinsloo-tweeling wat so goed tennis gespeel het; die Franse juffrou wat vir my soos ‘n regte Parisian woman gelyk het; juffrou Lochner se bril wat ‘n multicoloured raam gehad het en juffrou Vorster wat jy altyd deur ‘n ring kon trek…sulke los woorde, konsepte, beelde en mense wat my bybly…amper soos ‘n plakboek.
La Rochelle was goed vir my…

Sy’t eienskappe in my raakgesien waarvan ek nie eens bewus was nie en sy’t aan my geleenthede gebied om te verken en te groei. Haar leuse, “En-avant” beteken Voorwaards/Vorentoe…en dis op hierdie fondasie (nou meer binne ‘n ander konteks) dat ek steeds daarna streef om nuuskierig te bly, vrae te vra, te verken, om vorentoe te beweeg en sodoende waarde toe te voeg tot my mense, my gemeenskap en my land.