Mari Hanekom

Ek weet van La Rochelle al voordat ek kon lees of skryf. My ma was ’n Larrie en my pa ‘n Gimmie. Vir my broers was dit vanselfsprekend dat hulle Paarl Gimnasium toe sou gaan – hulle maak nou nie regtig die cut vir ’n meisieskool nie – maar ek het op 12-jarige ouderdom met ’n keuse gesit. Na Gim-BHS Interskole was ek oortuig dat ek die volgende Hanekom-Gimmie sou wees, net vir La Rochelle om my kop heeltemal deurmekaar te kom krap met High School Musical as vertoning in die ou skoolsaal. Ek bedoel, was jy ooit ’n tiener in die laat-2000 as jy nie ’n High School Musical fan was nie?!

In Januarie 2009, op die vooraand van my eerste hoërskool dag, het my pa vir Juffrou Amanda Lochner reg voor die Goue Trappe mooi laat verstaan dat hy eintlik wou hê ek moes Gim toe gaan. And the rest was history. Ek het by Faure Straat ingeklok as ’n skaam, plattelandse meisie. Ek moes vir die eerste keer skoolskoene dra wat my lang tone krom gedruk het, my graadgroep was ongeveer die grote van my hele laerskool, dit was ’n klassieke 40 grade Celsius plus in die Paarl en in plaas van sokker speel pouses, het daar meer as een Milady opdragte geblaf. Dit was ’n mengsel van vrees en opgewondenheid. 

Ons graadgroep het daarvan gehou om anders te wees en ons het nie net gestreef na ons doelstellings nie, maar ons het dit ook bereik! Dit het ons sommer vroeg in die begin van ons Matriekjaar al gewys toe ons 4M na ’n baie lang droogte gewen het. Soos ek hierdie skryf, kry ek van voor af lag vir al ons lawwighede. Mecia Hugo en Lorné Lourens het vroeg die sotte as Minions gedoop en al die quirks van Despicable Me in ons verwelkomingsprogram ingewerk. Ek wens ek het nog ons Big Brag videos gehad – die dirigente het ons almal in trane gehad van die lag. Lizelle Bock het besluit om vir 40 Days soos Samara Morgan van The Ring aan te trek en die hele koshuis al van 05:00 die oggend te begin skrikmaak – ek het nogsteeds nie die film gekyk nie; caution when you decide to Google. 

La Rochelle is ’n hoeksteen in die vorming van my karater. Ons moes soos grootmense optree en, glo my, ons was soos grootmense hanteer. Ons was vertrou met verantwoordelikhede meer as ander gemiddelde tieners. Daar was ’n klas van professionalisme van ons verwag wat ek nog nie eers in my werksplekke raakgeloop het nie. Ons was aangemoedig om onafhanklik te wees en vir onsself te sorg “want daar’s eenvoudig nie genoeg ryk mans vir al die vrouens nie.” – Jufffrou Lochner. 

Ek het weer deur ons jaarblad geblaai en op my partner-in-greatness, Raphaela Böhmer, se afskeidsbrief afgekom. Hier is wat sy te sê gehad het:

“[…] some of us leave here fluent in French. Other leave here fluent in movie quotes or song lyrics. Some leave here being able to derive Calculus, whilst others leave able to drive. Some leave here able to sprint kilometres, or play netball like a boss, whilst others, well, you’re lucky they got up to come here today! Some leave here able to tell you about the situation in Gaza, whilst others can update you on the situation on Geordie Shore. Either way, we leave here as individuals with our own skills and own fortes in life, with the great advantage of being able to say, “I’m a Larrie!”

Ek het aan die einde van my skoolloopbaan in die historiese skoolgange rondgeloop met my koningsblou blommetjies rok wat nou asvaal was. Dit was, en is steeds, vir my ’n eer om een van Faure Street’s Finest te wees. 12-jarige Mari kon nie beter kies nie.