Marie Hammann, Matriek 1953

Toe my ouers my in 1950 by die imposante hoofgebou van La Rochelle afgelaai het, sou ek nooit kon dink dat ek na amper 70 jaar hierdie “terugkyk’ sou neerskryf nie.

Maar dis La Rochelle se eie skuld! EK het onlangs aan ‘n skryfkompetise deelgeneem en toe my punte uitgelees is, het die gehoor vir my ‘n aanmoedigende applous gegee!  Ek kon nie hierdie gulde geleentheid laat verbygaan om La Rochelle, my ou Alma Mater, die “skuld” te gee dat ek vandag nog van my St 7-jare skryf en aan kompetisies deelneem nie.  Daar sit ‘n storie hier agter, Elke Larrie het ‘n storie…!

Ek kom van ‘n plaasskool in die Overberg af en beland toe in dié meisieskool in die Paarl – La Rochelle.

My eerste week in die skool was rampspoedig! Ons jong Afrikaans-juffrou het ‘n sagte stem gehad, en volgens my arrogante oordeel, ook haar klas-dissipline.  Terwyl sy uit, “Op ver paaie”, van P.S. Schoeman voorlees, was daar ‘n voortdurende geselsery en onrustigheid agter my in die klas.  Ek het toe maar my plaasskoolmaniere toegepas, en hulle ordentlik stilgemaak en ook sommer self al die antwoorde hard beantwoord!

“Marie, sal jy asseblief net ‘n oomblik agterbly as die klok gelui het”.  Dit was die sagte stem van die juffrou.  Ek het natuurlik gedink dat sy my wil bedank dat ek haar só ondersteun het.

“Marie jy kom nou net uit ‘n klein skooltjie en jy was vir jare die groot padda in ‘n klein dammetjie.  Ongelukkig moet jy nou leer dat jy maar net ‘n baie klein paddatjie in ‘n groot dam is.”

Ek was geskok en om alles te kroon het Molletjie, ons koshuismoeder, my naam die Vrydagaand vir 3 swartmerke uitgelees.  Die straf? Prosaleer en opsê op ‘n Saterdagmiddag.  Ek het nou finaal besluit om die stof van hierdie skool van my skoolskoene af te skud en aan my ouers te skryf dat ek wil terugkom en op die naaste dorp, Riviersonderend, koshuis toe gaan.

So baie reëls, so baie klokke, so baie moenies en magnies.

Marie van Eck – Praat in die gange

Marie van Eck – Laat in die rye

Marie van Eck – Miere in die klerekas as gevolg van sjokolade in die kamer

En dan die prosa uit: Shakespeare, Oscar Wilde, C.M. van den Heever, C.J. Langenhoven. Prosa, prosa-uit my kop opsê!  En dit terwyl ek op ‘n Saterdag kon tennis gaan speel of veldblomme pluk! Genoeg is genoeg!

Ons het geen toegang tot telefone gehad nie en moes op Sondagmiddae in die studiesaal – onder toesig- aan ons ouers of familie briewe skryf.

Ek het angstig op my pa se antwoord gewag. Ons pos is na ete langs ons bord neergesit.  My pa se groot bruin koevert met die bekende skrif was daar! Binne-in, net een vel wit foliopapier met een sin op: Marie, jy bly net waar jy is.  Liefde pappa en mamma.

En ek hét gebly…

Elke jaar het dit beter gegaan, nuwe uitdagings en meer vriendskappe.

In Standerd 7 en 9 het ek elke keer die S.A. Vloot se Opstelkompetisie gewen en is verhoog toe geroep om my boekpryse te ontvang.  Ons het almal op die vloer in die saal gesit met die 12 prefekte regs op skuins liggaamsoefenbankies – die bene kuis na buite gedraai! W.F.G. Louw, Boerneef, The Prophet, Peter Blum-ek koester my boeke steeds in my boekrak!

Maar toe hoor ons dominerende doopkaptein van my skryfvermoë.  As straf, omdat ek ‘n Sot en ‘n DIT is en omdat my van VAN ECK en nou VAN DIT is, moes ek haar en 3 vriendinne se opstelle skryf.  In ruil het een my darem gewys hoe om die skoolbloomers in netjiese hopies in my klerekas te pak!

Elke Larrie hét ‘n storie – dit het ek as kosganger gou besef.  Dorpe en distrikte oor Suid-Afrika, Suidwes en Rhodesië se sappigste stories is saans na ligte-uit aan mekaar vertel.  Elma van Rhodesië, Ebeth van De Doorns, Eline van Philidelfia, die Van Wyks van Fraserburg, Marlene van Velddrif, wat elke vis ken, Zabeth van Protem, Mynie van Danabaai, Alta wat presies weet hoeveel windpompe en skelmpies daar op Loeriesfontein is, Elsa en Miemie, Cora, Jane, Klokkies van Williston, Marietjie Loock van Willomore.  Gerrida wat met haar lippe soos ‘n elektriese kitaar kon speel – en dan die dagskoliere wat vir ons skelm pouse brood bring en ons wat oopmond luister, want hulle het ‘n diepgaande kennis van die Gimmies en Boishaaiers!  Stephanie, Betty, Judith, Dalena, Gaika, Dawn, Jeanette, Petro Aletta, Francionette.

En ons kon net een naweek per kwartaal die skooldrag uittrek en ‘n afnaweek hê!  Die Gimmies kon ons Sondae op die oorkantste galery in die Toringkerk dophou – en net hoop…

Mej. Grundlingh, ons skoolhoof, het by ons laaste 1953 – saalafsluiting oor mylpale en bakens in ons lewe gepraat.  Dis die mooi stories van Larries: die bekwame onderwysers wat sport, kampe, ACSV, debatsaande, verpligte musiekkonserte, afskeidsfunksies – alles moes aanbied en alles met kwaliteit en integritiet.  Ons is geleer wat respek en medemenslikheid beteken.  Ek wil Robbie Wessels “steel”, “Ek het ‘n skool besoek in die Paarl aan die voet van die berg” in die mooi valley

En wat is dit wat La Rochelle so spesiaal maak?

Is dit die vernis/politoerreuk van die houttrap of die gladheid en glans van die koshuis se Golden Stairs?  Is dit die mooi traliehekke?  Die foto’s teen die mure… die rye boeke in die biblioteek?  Die baie blink trofeë en naamborde van presteerders?

Nee!

Ek voel dis die mense wat daar gevorm is, dis die baken na baken, dis die mooi stories van mooi mense deur al die jare.

Voorwaarts!

Soet klink ons die naa-am La Rochel-le

La-haa-Rochelle!

Hoofkoshuis prefekte 1953

Skoolprefekte en kleureleiers 1953

Atletiekkaptein 1953

Marie Hammann
87 jaar oud
14 Februarie 2022, gelukkig getroud en vol ambisies vir die lewe.