Die Genesis
Ek was nege of tien jaar oud toe ‘n tannie of ‘n ouma vir my ‘n boek as verjaarsdag geskenk gee. Boeke as geskenke was nie vreemd in ons familie nie, maar hierdie een was spesiaal. Stella Blakemore se Maasdorp se drie Musketiers sou, letterlik, die verloop van my lewe verander. Dit was wel die sesde boeke in die reeks, so die storie het vreemd gelees, maar ek het vinnig my weg na die biblioteek gevind en die eerste boek in die reeks opgespoor: Meisies van Maasdorp. En kort daarna die tweede, en die derde.
Ek het die stories ingeasem, ek kón nie genoeg van hierdie meisies en hul eskapades kry nie. As enigste kind én jongste in die familie was hierdie wêreld van ‘n gemeenskap van meisies, almal onder een dak, ‘n onbekende konsep vir my. Om die boeke te lees was nie genoeg nie – ek wou ín die storie wees, deel van só ‘n wêreld, só ‘n gemeenskap.
Welkom, La Rochelle
Daar was geen ander uitweg nie – ek moes koshuis toe, buig of bars. En verkieslik na ‘n meisieskool. Maar, watter een? Gelukkig, as ‘n kind van die Kaap was daar genoeg meisieskole in die omtes omvan om te kies. Om die keuse bietjie makliker te maak: my Ouma was in die laat veertigerjare op La Rochelle gewees, so hoekom nie die (ietwat van ‘n) familie tradisie voortsit nie?
Lang storie kort, in Januarie van 2011 het ek by die La Rochelle Koshuis ingetrek en kort daarna het my eerste skooldag by Hoër Meisieskool La Rochelle aangebreek.
Die eerste paar weke as ‘n Graad Aggie is ‘n vervaging tussen al die foto’s wat ek geneem het en later ure na gestaar het terwyl ek dit ge-edit het en op Facebook gelaai het, sowel as my eie herinneringe, soos gesien deur my eie oë.
Ek kan wel onthou hoe warm dit was. Dat dit heeldag lank warm was. As ‘n Kapenaar het ek nie uiterste hitte soos dié geken nie. Die Stad het altyd ‘n briesie gebied. Die Paarl het nie. Dit was of windstil en vuurwarm, of, as daar ‘n wind gewaai het was dit ‘n warm bergwind wat niemand help afkoel het nie.
Oggende in die Koshuis
Ek onthou die chaos van ‘n skoologgend in die koshuis. Die tril klok wat om sesuur deur die gange weergalm. Jou prefek kom gee jou foon vir jou terug, deure begin klap, iemand (senior) speel (die mees verskriklike) musiek, toilette spoel, storte loop, hare word drooggeblaas.
As graad aggies was ons baie vinnig op en reg. Daar was ‘n groot geskarrel in ons kamer, soos ons almal probeer aantrek en bed opmaak en gesigwas en hare kam… Net om partykeer op ons beddens te sit en wag vir die ontbytklok om te lui. Was daar weer half sewe ‘n klok om die laatslapers te herinner om op te staan? Of was daar net twee? Sesuur en weer tien voor sewe vir ontbyt? Of was dit kwart voor sewe? Nietemin, ek weet van baie meisies wat eers met die ontbytklok opgestaan het – en jy kon dit sien as hulle langs jou by die ontbyttafel kom sit.
Ontbyt self was altyd ‘n fees – vir my, altans. Stel jouself voor meer as ‘n 100 meisies moet by een deur in. Party is al meer as ‘n uur wakker, ander het drie minute gelede uit die bed gerol. Party maak vir hulle (Rie-)koffie, ander gooi kookwater oor ‘n groentee-sakkie. Party nader een van twee yskaste in die hoek van die eetsaal (of het ons dit die eetkamer genoem?) om hulle eie spesiale kossies uit te haal, voor hulle by hul toegekende ontbyttafel gaan sit. Party gesels vandat hulle ingestap het, party hou hulle bekers in stilte vas asof dit al is wat hulle geanker aan die lewe hou, hul oë op skrefies (tot hoe laat het hulle skelm gisternag op hul laptops movies gekyk?).
Die ontbyttafels self was die toppunt van die “fees” – weereens, vir my. Daar was elke oggend ‘n ander tipe pap om te eet met ‘n keuse van warm én koue melk! En tweekeer ‘n week het ons roereiers en roosterbrood gekry!
Partykeer is ons warm hawermout voorgesit, of mieliepap, in plaas van die gewone droë pap. Mens kon altyd sien wie van watter kant van die Du Toitskloofberge kom. Die klein-dorpie- en plaasmeises het altyd warm pap geskep (as dit reën) en die voorstad- en Stadsmeisies het altyd ‘n (al was dit geringe) bo-lip reaksie gehad, hul wenkbroue effe gelig terwyl hulle oombliklike terugflitse na hul oumas beleef. Die’s wat nie via die yskas by die eetsaal ingestap het nie, het ten spyte van hul vooroordele, tog hul bakkies uitgehou na die matriek wat aan die hoof van die tafel vir almal geskep het. Wie kan nee sê vir warm hawermout met melk en soveel suiker en botter (margarine?) as wat jy wil hê?
Die Milady en haar Sot
En gepraat van aanvanklike chaos … nie net was ek ‘n Graad Aggie nie, maar ook, ‘n Sot. En ‘n Sot is nie ‘n Sot sonder ‘n Milady nie… En myne was, natuurlik, die mooiste een. Sy het my Doppies gedoop, en ek het myself so aan almal voorgestel (dit is vinniger en makliker as “Mart-Marié”) en gou-gou was dit al naam wat al my medeskoliere my genoem het. Daar was tot in Matriek nog ten minste twee onderwysers wat my op my Sotnaam genoem het, en selfs op Universiteit het meisies my gestop met “Doppies! Hoe gaan dit?”.
Doop in La Rochelle is amper nie eens nie woord werd nie, alhoewel 2011 se Miladies se claim to fame was dat hulle die laaste groep was wat behoorlik gedoop is toe hulle in Graad 8 was, en sou hulle dus seker maak dat ons óók behoorlik gedoop word. In die koshuis was die voorkoms daarvan natuurlik meer as vir die Dorpies en het dit al die koshuis Sotte ‘n meerderwaardigheidskompleks gegee wat in walms van ons afgerol het wanneer ons elke oggend in die rye tussen die Dorpies gestaan het:
“Ons moes gisteraand hierdie gedoen het.”
“My Milady het gesê ek moet dit vir haar kry.”
“Ek moes die hele middag lank-”
Jy kry die prentjie. My helderste herinnering van die Sotte en Miladies was die jaar se eerste Dorpdag, wat elke Woensdag na skool was. Ons is in die drop rond geparadeer met ons naamborde om ons nekke, of simpel hoedjies op ons koppe, gewoonlik met ‘n paar se gesigte wat ook geverf is. Ek moes ‘n kindersaambreeltjie oor my Milady se kop omhoog hou om haar van die son te beskerm terwyl sy en ander Miladies vir my en ‘n groep Sotte takies gee om te verrig.
“Gaan gee vir daardie Boishaaier ‘n blom en sing vir hom” was die tema van meeste van die versoeke.
‘n Web vriendinne
Hoe langer die tyd tussen my hoërskooljare en die hede strek, hoe meer besef ek wat ‘n skok vir my sisteem die hele ervaring was – altans, aan die begin. Van ‘n enigste kind wees na ‘n honderderd meisie plus instansie waar daar vír jou ‘n roetine uitgestippel word en jy skielik moet leer om almal anders en hulle dinge in ag te neem…
Jy is maar net veertien jaar oud, op die grootste avontuur van jou lewe tot dusver, en vir vyf dae van die week is jy omring deur mense wat jy (nog) glad nie ken nie, en is daar Matrieks wat jy met alle mag gelukkig wil hou. Maar – vir daardie vyf dae is jy nooit alleen nie. Daar is altyd ‘n Sot langs jou, voor jou, of agter jou. En hoe langer julle saam bly, saam eet en saam leef, hoe beter leer jy die meisie langs jou, voor jou, en agter jou, ken. Hoe meer julle stories oor julle eie lewens oor en weer vertel en hoe langer julle deel van mekaar se lewens word, sodat dit lateraan “ons” word, hoe meer besef jy dat die meisie langs jou, voor jou, en agter jou, jou vriendin is.
Graad 8 is vir almal nuut en vreemd en almal is onseker, so dus raak julle saam ‘n web wat op mekaar kan staatmaak en vertrou. Daardie web word gesmee in baie warm vuur en hou tot matriek toe. As jy gelukkig is, selfs langer.
Graad 8 VCSV groepie met Milady Natalie
Sot-vriendinne by die jaareind koshuisbraai
2012 Eendrag inwoners by die koshuisdinee
Gr 9 klasuitstappie na die Kunstekaap
Matrieks by die Interhuis
4M in Matriek
Mart-Marié in Matriek by die 4M swemgala
8. Matrieks by die Koshuis Cake and Body Decorating
Onlangse foto