Sanli Holm (nee du Toit)

La Rochelle is sekerlik deel van my DNS. My ma en al vier my pa se susters was in La Rochelle. Toe die tyd dus aanbreek vir my om ‘n hoërskool te kies, was dit natuurlik ‘n “no brainer”. 

Ek was in ‘n verskriklike klein laerskool: van graad  R tot 7 was daar minder leerders as in my hele graad 8 jaargroep. Dit was ‘n vreesaanjaende gedagte. Tog was die opwinding groot toe ek die brief kry wat sê dat ek maar ‘n blommetjiesrok mag kry. Ek het soos Harry Potter gevoel na hy Hogwartsbrief ontvang het. 

Met ‘n bitter klein hartjie,  ‘n tas vol verwagtinge en n skoolbaadjie wat nou nog te groot is, het hierdie skaam plaaskind toe in 2003 haar blomrokbokkie-avontuur begin.

En wat ‘n avontuur was dit nie! Sommer vroeg al, met atletiekoefening in 40 grade op Dal Josafat, het ek geweet dit was die regte besluit. Ek het van die begin af gevoel dat ek hier hoort. Tussen myle saam met Tania en die Milestyles, wiskunde-trane en Shakespeare gedigte, is daar kosbare  verhoudings en herinneringe vas gemessel in my hart. 

Ek onthou die mistieke goue trappe, die mooiste blomme in die portaal, giggelende plasse meisies op die netbalbane tydens pouses, ‘n kriekplaag wat die allersnaakste spronge op die grasperk veroorsaak het, en die jaarlikse opwinding en afwagting met die aankondiging van die 4M-span. Ek koester vriendskappe met dames wat nou as volwassenes steeds hartsmense is.

Ek haal steeds vir Juffrou Potgieter aan wanneer die leerder, vir wie ek tuisonderrig gee, duidelik nie verstaan waaroor die dag se skeinat-les gaan nie. Ek onthou ook elke tip wat sy gegee het om die Periodieke Tabel van Elemente te onthou en beïndruk daardie einste leerder daagliks. Deur Madame Britz het ek ‘n Frankryk-obsessie ontwikkel en droom nóg oor ‘n klein kasteeltjie in die Loire Vallei. Ek sal waarskynlik nooit vir meneer Ratz, sy blommetjiesdas en Sonnet 116 vergeet nie. Met die aanloop na 4M het Juffrou Schoeman ons aflos-aangeë in gedrill op die grasperk. Ek glo ek sal nou nog saam met elke 4M kreet tussen 2003 en 2007 kan skree. 

Hoewel ek lankal reeds my skoolrok opgehang het, voel ek steeds mooi en tuis as ek blommetjies aanhet. Ek sien baie uit daarna dat my dogtertjie haar beurt sal kry om die trots wat ek nou nog voel, eerstehands te ervaar.

Vlnr Susan Bothma (mx 2009), ek (mx 2007), Natasha Drake (mx 2007) Madeleen van Zyl (mx 2006) Deel van Boland Tweekamp span, op ‘n treintoer
SA’s toe

Matriekafskeid 2007. Vlnr Carmen Human (Curlewis), Sumae van Eyssen (Veldsman), Maruzaan Booyse (de Wet), Sanli Holm, Jana Winterbach

Dag voor 4M in 2005