So ontvang ek verlede maand ‘n oproep van Karelien wat vra of ek nie sal kans sien om ‘n storie vir die
Larrie Alumni te skryf nie, want jy sien elke Larrie het mos ‘n storie…
So glo ek ook nie in toe val nie en die laaste paar weke soos ek nuwe mense ontmoet word ek herhaaldelik gekonfronteer met die vraag: “ So waar was jy op skool?” Waarop ek dan met TROTS antwoord La Rochelle. En dan volg die outomaties vraag daarna, hoekom La Rochelle? Wel in my geval moes ek ‘n keuse maak van ‘n Paarlse skool, aangesien my pa ‘n werksaanbod aavaar het in die Paarl. En ek’t net geweet dat ek weet, in ‘n skool vir net meisies, wil ek wees. Ek is die jongste van twee dogters en vind vrouwees besonders. So trek die blou en geel (goud) my aan. Daar is net daardie “iets” wat La Rochelle vir my laat uitstaan, dalk is daai iets die blomrokke…
Ek het van uit die huis uit skool gegaan, maar dit was ook goed. Ek het vakke geneem waarvan ek hou en aan aktiwiteite deelgeneem wat my hart geprikkel het. Ek’t nog altyd geglo jy ontvang deur te gee. Ek’t in ‘n huis groot geword waar my ouers vrygewige mense is. Daarom het die groep INTERACT my aandag getrek, dit was heerlik om betrokke te kon raak en uit te reik na verskeie platvorms en om sodoende ‘n bydrae en hulp te verleen aan mens en dier in ons gemeenskap. Ek’t ‘n in Christelike huis groot geword engeloof was maar net nog altyd daar, dit was ‘n voorreg om as jongmeisie op hoërskool die geleentheid te kon kry om hierdie bande te versterk. Om ‘n lid van die VCSV groep te wees was ‘n wonderlike bousteen, waarop ek vandag nog staan. Huishoudkunde was ‘n vak wat my baie vaardighede aangeleer het, soos die maak van ‘n witsous wat ek vandag steeds in my huis maak kom uit ‘n klein A5 La Rochelle resepteboekie.
Ek’t ook naaldwerk by Juffrou Vorster geneem en is trots om te kan sê dat die naaimasjien wat vandag in ons plaashuis staan kom uit La Rochelle se naaldwerk klas. So basies toe ek klaar gematriekuleer het was ek ‘n gekwalifiseerde tuisteskepper, min wetende is dit die plek waar ek myself nou bevind. Dis ‘n voorreg om tuis te wees op die plaas by my seuntjies. Daar lê soveel waarde hierin, wat geld nie kan koop nie! Die Skrif beskryf ‘n vrou as die middelpunt van die gesin. Die een wat voed, vashou en versorg die een op wie vertrou word.
Ek het in 2006 gematrikuleer en daarna Onderwys gaan studeer in die buurdorp Wellington. Ek’t ook my trouman in standard 9 gevind. Aangesien die skool slegs vir meisies bedoel is, moet daar plan gemaak word om van die ander geslag ook te leer. In my jare het ons hande gevat met Boland Landbou Skool en dis waar ek toe my boertjie gevind het. Ons het heerlik oor en weer gekuier, saam vrugtefeeste gehou, saam gesokkie, gekuier en vriendskappe gebou. Ek voel baie sterk oor konneksies. Verhoudings, families en volke word op die krag van vroue gebou. Daar is net daai iets besonders aan vrouwees, die kameraderie en samesyn gee hoendervleis oomblikke.
La Rochelle se finesse en afronding staan vandag nog vir my kop bo water uit. Ek is ongelooflik trots om te kan sê, eintlik getuig, dat ek produk van die blom rok is. Dat ek vandag as ‘n jong vrou van amper veertig nie vir een dag spyt was oor my keuse nie, dat die skool waarlik van elke jong meisie ‘n pragtige volwasse jongdame maak. Een wat haarself in die wêreld daar buite kan handhaaf, een wat ‘n goeie voorbeeld stel, ‘n vrou wat haarself en ander respekteer. Ek onthou ook helder die houdingsterre, vir voorkoms en netheid op persoon. In La Rochelle het almal geblom en was, ek glo vandag steeds, daar vir elk ‘n plekkie onder die son. Juffrou Amanda Lochner was ‘n besonderse Skoolhoof en mens. Jy het met groot respek en waarde opgekyk na haar. Sy’t ons elk waardig laat voel en met groot deernis hanteer. Dit was ‘n voorreg om in haar kantoor te wees.
My wens en gebed is dat La Rochelle van krag tot krag sal gaan. Oor generasies heen, in blou en geel sal pronk. Die geel soos die son oor elkeen sal skyn wat deur haar gange loop. Dat die blou soos die lug en God se genade met elkeen sal wees. Dat elke dogter sal BLOM daar waar sy geplant word. Selfs al is dit soms in die modderigste of die droogste dele.
Ek groet julle, en avant Blommekind mag jy sterk staan teen die wêreld se wind.
Mag jy jou gesig na die son draai, en Abba vir jou waai.
Mag jy blom waar jy gaan en goeie saad saai.
Wees ‘n Larrie met trots en hou vas aan jou rots.
Gasvryheidstudies
Gasvrou by Matriekafskeid