Aan AL die Larries: ons as onderwysers is hier vir julle, ons leef vir julle, ons is lief vir julle. Glo dit of nie, maar ons soek net die beste vir julle. E-leer is vreesaanjaend en ‘n mens kan vinnig alleen en verlore voel – reik uit! Ons is net ‘n boodskap/ stemopname/ facetime-sessie weg. Jy is nie alleen nie. Ons glo in julle! Quotes is cheesy, maar ek wil graag my boodskap afsluit met die volgende: “Tough times never last, only tough people last”. Blom, blom, blommetjie! – Mnr. Swart
Verlange na onderwysers loop hoog gedurende hierdie tyd. Moenie skaam wees om dit te erken nie, want ek belowe jou elkeen verlang maar. Gewoonlik kla ons vir maande lank dat ons ’n bietjie “afstand” benodig, maar met die infasering van afstandsleer, het die meeste van ons uiteindelik besef hoe waardevol onderwysers is.
Ek verwag dat al my leerders gereed is vir ‘n Biologietoets die eerste dag wat ons almal terug is… (grappie). Ek verwag eintlik net dat die leerders in die grendeltydperk die vermoë geleer het om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie leer. Ek hoop hulle sal besef hoe bevoorreg hulle is om in ‘n klaskamer te sit met al hulle maats, met ‘n onderwyser wat voorbereid is en ouers wat net die beste vir hulle wil gee. – Mej. Kotze
Al die onderwysers het een boodskap vir ons gehad: “Ons mis julle en doen julle beste!” Onderwysers gee baie meer om as wat ons dink en al voel dit of jy jou rekenaar in die drom wil gooi en Teams of Google Classroom wil afvee, probeer om deur te druk. Aan die anderkant van die donker tonnel het ons al ons onderwysers wat agter ons staan en daar is om te help, want hulle is merkwaardige mense.
Sukkel jy om op datum te bly? Eenvoudige wenke: vra vir hulp, deel jou dag op in tydsblokke en onthou om te beplan en te prioritiseer. E-leer gaan nie net verdwyn nie. Danksy die pandemie besef ons vandag watter voordele e-leer vir ons kan inhou.
Onderwysers is belangrik in ons klasse, fisies of aan die anderkant van ‘n rekenaarskerm en ek hoop elkeen besef dit. Onderwysers, ons hou meer van julle as wat dit voorkom.
In Biologie leer ons “the only constant in life is change” en hierdie pandemie is ‘n groot, GROOT VERANDERING. Charles Darwin, wat die teorie van Natuurlike Seleksie geskryf het, se welbekende aanhaling lees: “It is not the strongest of species that survives, nor the most intelligent, but the one that is most adaptable to change”. Ek is definitief nie die mees aanpasbare mens nie en ek het my “creature-comforts”. So, ek verstaan die uitdaging hier, maar werk aan jou aanpasbaarheid en moet nie dat natuurlike seleksie jou agterlaat nie. – Mev. Vermeulen
Ek verwag van my leerders om op datum te wees met die werk wat ons deur middel van e-leer afgehandel het. Indien hulle vrae het, hoop ek hulle vra my nou – terwyl ons die werk behandel. Ek hoop ook ons en die leerders kan met nuwe waardering vir mekaar terugkeer. – Mev. Y. Naude
Dit verg aansienlik meer werk om deur e-leer skool te gee en daar is baie minder struktuur in die dag as by die skool. Die beste manier om jou tyd te bestuur, is om vir jouself ‘n weeklikse werkrooster op te stel. Ek deel my dag op in 50 minute blokke en stel vir myself take vir elke blok. Daar is dan ook “overflow” blokke wat my help om aanpasbaar te wees indien daar take is wat langer vat as beplan, of as daar ‘n krisis opduik wat ek moet hanteer. Maak seker dat jy ook tyd maak in jou rooster om te rus, in die tuin te stap of te strek. Wanneer jy te lank aan een taak werk, word jy minder produktief. Die lewe verloop egter nie altyd volgens plan nie. Maak seker presies wanneer take afgehandel moet wees, asook watter take belangriker is. Dit sal jou help om te prioritiseer wanneer jy besluite moet neem oor waaraan om te werk. “Routine breeds habits, and habits breed efficiency.” – Mnr. Meades
Dit is so moeilik om verwagtinge te hê in hierdie tydperk. Ek dink nie ‘n mens kan verwag dat alles soos normaal moet aangaan nie, maar ek weet dat ons as onderwysers baie hard aan die werk is om inligting en werk vir die leerders deur te gee. So, ek sou sê dat ‘n mens kan verwag dat die leerders hulle kant ook bring en eintlik na die werk gekyk het en hulle bes gedoen het om by te bly. – Mej. Sieberhagen
…
Bianca van der Walt