Die Koronavirus het almal se planne vir 2020 gestuit.

Dit is nie nuus dat die nasionale inperking, wat op 27 Maart deur ons president ingestel is, tot verskeie frustrasies gelei het nie. Alles het verander – in sekere opsigte is dit goed en in ander sleg. Ek en my mede-matrieks is onder druk om ons laaste jaar, soos die meeste matrieks voor ons, die beste een te maak – met die beste punte. Dinge is egter nou aansienlik meer gekompliseerd. Hoe gaan die res van ons jaar lyk? Gaan ek wel op die rooi tapyt by Kronenburg se trappies afloop terwyl almal my rok, hare, metgesel en kar aanskou?

Tydens hierdie inperking het ek ’n paar dinge geleer. Ek het, onder andere, besef hoe lekker dit is om musiek te luister terwyl ’n mens wasgoed ophang; dat die reuk van varsgebakte muffins my dadelik wakker kan maak en dat ek definitief die beste vriende het. Vriende wat my ondersteun, al is hulle kilometers weg.

Dit is hartseer dat elkeen van ons daagliks met onsekerheid en angstigheid moet leef, maar hierdie swaarkry bind ons ook saam. Ek voel effens beter met die wete dat almal saam swaarkry en hierdie probleem saam aanpak. En ten spyte van hoe cliché dit dalk mag klink, is alles makliker as almal saamwerk – met die uitsondering van skooltake wat in groepe gedoen moet word.

Dit is duidelik dat Suid-Afrikaners weet hoe om mekaar te ondersteun – veral wanneer dit kom by nasionale probleme. Wat is die geheime bestanddeel? Humor natuurlik! Ek onthou die eerste gesprek wat ons klas oor Covid-19 gehad het. Ons was besig met Wiskunde in mnr. Swart se klas toe ons hoor dat die eerste geval van Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld is. Daardie middag het die eerste grappies, memes en video’s oor hierdie nuwe probleem reeds deur my foon ingestroom gekom.

Dit is definitief nie vreemd vir Suid-Afrikaners om grappies te maak oor ons land se probleme nie. Ons het so baie probleme. So hoekom nie? Van oud-president Jacob Zuma tot Eskom se beurtkrag en natuurlik die keer toe polonie ons lewens bedreig het!

Sosiale media-verbruikers maak grappe en video’s oor probleme eerder as om hulle daaroor te kwel. Dit is ’n erkende coping mechanism vir mense wat stres en angs ervaar. Dokters, polisiemanne en -vroue en ander nooddienswerkers het almal geleer dat hulle moet lag. Dit help hulle om aan te pas by die verskriklike dinge waaraan hulle blootgestel word. Die steunpilare van ons samelewing – die medici, tellers en ander – het die ontvlugting wat humor bied, broodnodig. Om te lag is emosioneel reinigend en dit help hierdie werkers om die sielkundige erns, wat hulle werk vereis, teen te werk. Dit is duidelik die manier waarop Suid-Afrika haar seer verwerk.

’n Mens voel soms ’n bietjie skuldig om te lag oor ernstige dinge. Dit voel dalk of dit op een of ander manier onvanpas is om te lag te midde van ander se ongeluk. As jou eie humor hierdie rigting inslaan, is dit belangrik om te onthou dat jy nie regtig vir ander en hul ongelukke lag nie. Jy lag vir die situasies en onvoorspelbare gebeure wat te midde van daardie ongelukke ontstaan. Jy benut die geleentheid (en skep dit soms) om die moeilike emosies wat onvermydelik by jou ophoop, te laat vaar.

Behalwe om jou te help om al jou opgehoopte woede, frustrasie of spanning te laat vaar, kan humor te midde van ’n ramp ook help om te voorkom dat hierdie negatiewe emosies in jou opbou.


Glo dit of nie, maar ek sal eerder net hier in Suid-Afrika wil wees tydens hierdie pandemie as in enige ander land – ten spyte van ons swak ekonomie, gesondheidstelsel en korrupsie. Die rede? Ons weet hoe belangrik dit is om soms vir onsself te lag.

“Humor is mankind’s greatest blessing.” – Mark Twain

Sunet Verhoef