Weens die nasionale inperking en die voortdurende onsekerheid oor die Covid 19-virus weet ons nie wanneer ons weer ons voete in die foyer van ’n teater gaan sit nie. Wanneer ons eendag weer ons eie produksies op die planke gaan bring, blyk ook onseker te wees. Op hierdie stadium wend ons ons na die skerm – vir ure van vermaak en inspirasie. Elizabeth du Toit plaas die nederige TV-skerm onder die kalklig.
Onthou jy toe jou ouers vir jou gesê het dat jy blokkies oë sal kry as jy te veel televisie kyk? Wel, hulle was (hopelik) verkeerd. Hier is ‘n bietjie goeie nuus: navorsing het bewys dat die kyk van films eintlik baie goed is vir jou.
Is dit werklik raadsaam om so ’n paar uur voor die televisie te spandeer? Die kort antwoord is: ja.
Films help ons om vir ’n oomblik te ontsnap en te vergeet van ons kwellinge. Ons word weggevoer na ‘n ander tyd en plek en kan vir ‘n kort tydjie op die hede fokus. Dit gee ons brein die nodige rus van ons daaglikse take en stressors.
Wanneer jy na ’n film kyk, bied dit jou die kans om emosioneel betrokke te raak by ’n verhaal of karakter. Selfs diegene wat sukkel om hul emosies uit te druk, kan genoop word om ’n traan te pik of ’n hartsnaar te veroer. Hierdie vrystelling van emosies kan ‘n katarsiese effek hê, en as gevolg daarvan kan ‘n persoon gemakliker raak om hulle emosies uit te druk.
Die meeste kritiek teen die kyk van televisie of films is dat dit nie goed is vir jou gesondheid nie. Niemand wil ’n stoelpatat wees wat wortelskiet op die rusbank nie, maar as jy lag terwyl jy televisie kyk, tel dit as ’n bietjie oefening. As jy lag, werk al die spiere in jou liggaam en as jy ordentlik lag, kan jy voel hoe die maagspiere hulle werk doen. Wanneer laas het jy uit jou maag gelag terwyl jy na ‘n film kyk? Dit is ’n unieke, seldsame oomblik wanneer ons in ‘n goeie, ongehinderde lag uitbars.
Films kan nie net emosies of lagbuie aanwakker nie, maar ook idees en vooruitgang laat vlamvat. As jy sien hoe normale mense tydens die verloop van die film in helde verander, kan dit jou inspireer of aanmoedig om dieselfde in jou alledaagse lewe te doen. ’n Film kan jou laat besef dat doodgewone mense – soos ek en jy – ook in staat is tot buitengewone dinge in die lewe.
Die vertel van stories is al vir millennia deel van die mens se bestaan. Volksverhale word van geslag tot geslag oorgedra. Sprokies word voor slaaptyd vertel en grappies word oor die radio en televisie uitgesaai. Oor die eeue heen word stories vertel sodat die aanhoorders lewenslesse kan leer en die wêreld om hulle beter kan verstaan.
Vandag kan ons nie aan ouma se voete sit en na haar stories luister nie. Miskien is die TV-skerm en sy films die hedendaagse volksverhaal wat ons help om sin te maak van die vreemde, interessante wêreld om ons.
’N FILM QUIZ
Soek jy soms vir ure na die regte film? Moet jy ‘n avontuur- of aksiefilm kyk? Moet die genre komedie of romanse wees? Moenie bekommerd wees nie, want hierdie quiz sal jou help om die regte keuse te maak.
1. Wat is jou gunstelingoomblik in ‘n fliek?
A) Die food fight toneel
B) Die oomblik as die protagonis dolverlief raak op the boy next door
C) Wanneer hoofkarakter in ‘n weerwolf verander
D) Die held wat die skurk oor ‘n gevaarlike terrein jaag
2. Saam met watter aktrise sal jy graag tyd wil spandeer?
A) Rebel Wilson
B) Drew Barrymore
C) Keira Knightley
D) Angelina Jolie
3. Jy en jou vriende kuier Vrydagaand saam. Julle besluit om ‘n middernagfees te hou. Watter soort peuselhappies eet jy?
A) Pannekoek
B) Oliebolle (donuts)
C) Slaptjips
D) Burgers en Pizza
4. Wat is jou gunstelingmusiekgenre?
A) Klassieke musiek
B) Pop
C) Jazz
D) Rock
5. Jy en jou vriende ontspan saam en besluit om ‘n TV-program te kyk. Watter program sal julle kyk?
A) Modern Family
B) Gossip Girl
C) Star Trek: The Next Generation
D) Game of Thrones
6. Wat is jou gunsteling seisoen?
A) Somer
B) Lente
C) Herfs
D) Winter
7. Watter van die volgende films is jou gunsteling?
A) Pitch Perfect
B) 27 Dresses
C) Harry Potter and the Sorcerer’s Stone
D) Geostorm
8. Saam met watter akteur sal jy graag wil gaan koffie drink?
A) Ryan Reynolds
B) Hugh Jackman
C) Johnny Depp
D) Tom Cruise
9. Watter sanger se konsert sal jy graag wil sien?
A) Lady Gaga
B) Adele
C) Ariana Grande
D) Sia
10. Watter een van die volgende aspekte is vir jou die belangrikste in ’n film?
A) Vriendskap
B) Romanse
C) Kreatiwiteit
D) Avontuur
RESULTATE
Meestal A – The Parent Trap (1998)
Walt Disney se The Parent Trap vertel die verhaal van identiese tweelingsusters wat kort na hul geboorte van mekaar geskei is omdat hulle ouers se huwelik tot ’n einde gekom het. Die twee dames is salig onbewus van mekaar se bestaan, maar ontmoet toevallig tydens ‘n kamp in Maine. Gretig om hul onderskeie ouers te ontmoet, bedink die meisies ‘n plan om plekke met mekaar te ruil.
Meestal B – 10 Things I Hate About You (1999)
Die gewilde en beeldskone Bianca Stratford (Larisa Oleynik) is in ‘n dilemma. ‘n Gesinsreël verbied haar om in ‘n verhouding te wees totdat haar ongewilde, opstandige, ouer suster, Kat (Julia Stiles), ‘n kêrel van haar eie kry. In ‘n poging om Bianca se hart te wen, probeer ‘n potensiële kêrel (Andrew Keegan) desperaat om ‘n verhouding tussen Kat en Patrick Verona (Heath Ledger) te verseker.
Meestal C – The Martian (2015)
Tydens ‘n bemande sending na Mars gaan die ruimtevaarder, Mark Watney (Matt Damon), vermoedelik dood na ‘n hewige storm. Watney het egter oorleef en is nou stoksielalleen op die rooi planeet. Met slegs geringe voorrade moet hy van sy vindingrykheid, bekwaamheid en positiewe ingesteldheid gebruik maak om te oorleef. Terselfdertyd moet hy ‘n manier te vind om aan sy span te kommunikeer dat hy oorleef het. Miljoene kilometers weg werk NASA en ‘n span internasionale wetenskaplikes onverpoosd om The Martian huis toe te bring, terwyl sy bemanningslede ‘n gewaagde – indien nie onmoontlike – reddingspoging in die vooruitsig stel.
Meestal D – Wonder Woman (2017)
‘n Amazoniese prinses (Gal Gadot) se idilliese lewe op ‘n eiland, wat deur vrouekrygers beheer en beset word, word onderbreek toe ‘n vlieënier (Chris Pine) onverwags sy verskyning maak. Nadat ons heldin die vlieënier red, verneem sy dat die Eerste Wêreldoorlog die planeet verswelg, en belowe om haar bonatuurlike mag te gebruik om vrede te herstel.