Vir baie van ons sportvroue het die eindfluitjie reeds geblaas – nog voor die wedstryd werklik begin het.

Sedert die einde van 2019 word daar met opwinding uitgesien na die groot jaar: 2020. Dit sou die jaar wees waarin almal hul doelwitte bereik en drome waar word. Die Larries het die jaar goed afgeskop deur die 4M-beker weer terug te bring na ons voorportaal toe. Die momentum wat ons opgebou het, het egter skielik tot stilstand geruk met die koms van Covid-19.
Op julle merke, gereed…staan maar eers terug, atlete. Dit is egter nie net die atlete wie se drome vir 2020 deur die wêreldwye pandemie gekniehalter is nie. Alle ywerige sportvroue is op een of ander manier beïnvloed. 2020 was die jaar wat La Rochelle se netbalspanne hulle opponente ‘n ding of twee sou wys en die tennisspelers sou by All Girls nog ‘n hoër posisie behaal het.

Covid-19 het ‘n groot impak op die Larries en hulle sportambisies. Atlete, soos Elke van der Westhuizen en Nikki Schonken, het hard geoefen om SA’s te haal. Toe die inperking aangekondig is, was hulle uiters teleurgesteld om te hoor dat hierdie gesogte atletiek-kompetisie afgestel is. Ons talentvolle naellopers sou gedurende April Amerika toe gaan om in Pennsilvanië deel te neem aan die gesogde Penn-relay-kompetisie. Hierdie groep atlete en hulle afrigters het groot opofferings gemaak met die hoop dat hulle die geleentheid sou hê om die skool in die buiteland te verteenwoordig.

Ons netbalspeelsters – veral die gr.12-dames – kry ook ‘n knop in die keel wanneer hulle aan die verlore tyd op die baan dink. Hulle het hard geoefen om by kompetisies soos All girls goed te presteer en ook om elke wedstryd ‘n groot uitdaging vir hulle opponente te maak. Covid-19 het hulle van ‘n fantastiese seisoen ontneem en na al die jare se opbou en oefening is daar nou ‘n jaar sonder ontwikkeling en vooruitgang. Die spelers sou wat wou gee om vir die laaste keer as ’n hegte span na kompetisies te reis of mekaar op of langs die baan te motiveer. Hulle dink terug aan die gevoel van vasbyt tot bittereinde. Hulle dink terug aan oomblikke wat hulle laat besef het dat geen stryd verlore is tot die eindfluitjie blaas nie. Helaas het die eindfluitjie in 2020 geblaas nog voor die wedstryd begin het.

Die opwinding aangaande die nuwe astro-baan wat gedurende 2020 op La Rochelle se gronde gebou is, het hoog geloop – veral onder die gr.12-hokkiemeisies. Hierdie dogters droom al lank oor daardie eerste tuiswedstryd op hulle eie astro!

Die tennisspan vertel hoe hartseer hulle was toe hulle besef dat vanjaar se All girls-toer nie gaan realiseer nie. Tog hou hulle vas aan verlede jaar se kosbare herinneringe toe La Rochelle as gasvrou vir hierdie toernooi kon optree. Die Kaptein van die span, Rhoné van Niekerk , kon ook nie op die TSA (Tennis South Africa) toer gaan nie.

Covid-19 het ‘n invloed op elkeen van La Rochelle se sportvroue. Alhoewel ons baie teleurstelling beleef, wil ek elke Larrie aanmoedig om steeds na hul fisiese gesondheid om te sien. Hou aan om julle vaardighede op te skerp (al is dit ook in isolasie) en te glo dat daar wel weer ‘n geleentheid sal wees om jou passie ten volle uit te leef. Al het die eindfluitjie vir 2020 se sportjaar reeds geplaas, kan ons steeds daaraan werk om in 2021 opnuut op sportgebied te blom!

Rebecca Willemse