Musiek is onlosmaaklik deel van ons bestaan en is veel meer as ‘n bron van vermaak en plesier. Van kleins af sing, neurie, klap en dans ons op die maat van musiek – dikwels onbewus van die voordele wat dit vir ons inhou.
Die menslike brein en senustelsel onderskei musiek van geraas en reageer op ritme, repetisie, toon en wysies. As gevolg van ons ingeboude reaksie daarop het musiek die vermoë om ons saam te bind en sterk emosies by ons aan te wakker. Navorsers ondersoek al vir jare die moontlike terapeutiese en ander voordele wat musiek vir die mens inhou.
Ons het al almal ervaar hoe ‘n lekker, lewendige liedjie ons gemotiveerd en energiek kan laat voel of hoe ‘n mooi stuk musiek ons skielik emosioneel of melankolies kan laat voel. Tolstoy het gesê: “Music is the shorthand of emotion”. Die film- en advertensiebedryf het lank reeds musiek se emosionele krag ingespan om ons aan te moedig om produkte te koop of sekere emosies te ervaar. As gevolg van hierdie sterk band tussen musiek en emosies word musiek ook dikwels as ‘n geneesmiddel en ‘n vorm van terapie gebruik.
Musiek stel ons in staat om ons gevoelens uit te druk en met ander te kommunikeer sonder dat woorde nodig is. Dit stel ons instaat om spanning beter te hanteer, te kalmeer en makliker aan die slaap te raak. Studies wys ook dat musiek voordele inhou vir die hantering van pyn en dat diegene wat na musiek luister hul herstelproses kan bespoedig. Musiek hou egter nie net voordele in vir mense wat siek is of emosionele probleme ervaar nie. Daar is gevind dat mense wat selfs vir slegs een uur per dag na musiek luister oor die algemeen minder pyn ervaar en ‘n kleiner kans het om depressief te word.
Navorsers beweer selfs dat musiek gewigsverlies kan aanhelp. Daar is bevind dat mense wat na rustige musiek luister terwyl hulle eet tot 18% minder voedsel sal inneem aangesien die musiek hulle laat kalmeer en gevolglik minder laat eet.
Een van die bekendste voorbeelde van die kognitiewe voordele van musiek is die sogenaamde “Mozart-effek”. Ongewone wiskundige vermoëns by baie klassieke musikante het navorsing oor die verband tussen Mozart se musiek en kognitiewe vermoëns aangemoedig. Hierdie navorsing dui daarop dat verbeterde kognitiewe prestasie by studente waargeneem is wanneer hulle na Mozart se musiek geluister het terwyl hulle studeer. Mozart se musiek aktiveer die brein se vermoë om te fokus en take wat verband hou met taalvaardighede en geheue word makliker bemeester.
Musiek hou egter nie net voordele vir geestelike en kognitiewe welstand in nie. Dit bevorder ook uithouvermoë tydens oefening. ʼn Vaste en vinnige ritme motiveer mense om vinniger en verder te hardloop as wat hulle sonder musiek sou. Die luister van musiek verlaag die persoon se persepsie van tyd en uitputting. Dit veroorsaak dat jou liggaam onbewustelik harder sal werk aangesien die musiek jou aandag sal aftrek.
Plato het reeds 2 400 jaar gelede die positiewe impak van musiek besef toe hy gesê het: “Music gives a soul to the universe, wings to the mind, flight to the imagination and life to everything”. Ons leef onder die indruk dat die mens musiek maak vir plesier, maar miskien laat musiek die mens toe om te leef en om dit wat leef te verstaan.
Inge van der Westhuizen