Haak die knoop deur

Daniell Lemmer ondersoek macramé as ‘n kreatiewe stokperdjie vir diegene wat nou te veel tyd op hande het.

Ons aanvanklike verwagting was dat die grendeltydperk slegs 21 dae sou duur. Bykans drie maande later besef ons dat die gevolge van Covid-19 en die grendeltydperk nog lank met ons gaan wees.

Die regulasies vir die voorkoming van Covid-19 verhoed baie Larries om aan ‘n spansport deel te neem of selfs aan kultuuraktiwiteite deel te neem. Gevolglik het ons baie meer tyd op hande.

Te veel skermtyd en doodgewone ledigheid kan egter nie altyd goed wees vir jou gemoed of gesondheid nie. Ledigheid was nog altyd die duiwel se oorkussing. Handewerk, soos brei en ander vorme van naaldwerk, word al vir eeue as ‘n tipe terapie beskou en word veral deur arbeidterapeute ingespan.

‘n Internasionale opname toon dat mense wat handewerk doen – veral met tekstiele of soortgelyke materiale – verskeie sielkundige voordele daaruit put. In hierdie opname is, onder andere, aangedui dat mense wat brei minder angstig voel, en dat hulle selfvertroue en kognitiewe vermoë verbeter het. Volgens dr. Daisy Fancourt van die Universiteit Kollege van Londen bevorder aktitwiteite wat as handewerk beskou word die beweeglikheid van kleiner gewrigte. Daarmee saam verminder dit ook inflamasie en die vrystelling van stres-hormone.

Die Avanti-span het ondersoek ingestel na ‘n goedkoop, kreatiewe stokperdjie wat enige een in haar kamer kan beproef – macramé. Al wat jy nodig het, is ‘n sterk tou wat van katoen of ‘n ander natuurlike vesel gemaak is en ‘n bietjie geduld.

Macramé is ‘n knoop-tegniek met tou wat al sedert die dertiende eeu beoefen word. Verskeie materiale kan daarvoor gebruik word waaronder katoen, linne, leer of gare. Die tegniek is eenvoudig en maklik. Die eindprodukte kan dien as versiering vir jou koshuiskamer, as geskenke gegee word of selfs verkoop word vir ‘n bietjie sakgeld.

Diegene wat graag hulle eie produk uit tou wil skep, kan gerus verskeie video’s op Youtube raadpleeg. “DIY 5 minute macramé planters” is een van die kort video’s wat jou in ‘n japtrap leer om ‘n eenvoudige planthouer te maak.

Wanneer jy gemaklik is met die knoop en vou van ‘n planthouer kan jy gerus ook probeer om ‘n droomvanger (dream catcher), gordyn en ander muurbehangsels te maak.

Jy sal verbaas wees oor hoe goed jy voel wanneer al die drade bymekaar kom en jy ‘n eindproduk het waarmee jy kan spog.