#Jerusalemadans
“Jerusalema ikhaya lami
Ngilondoloze, Uhambe nami
Zungangishiyi lana
Jerusalema ikhaya lami
Ngilondoloze,Uhambe nami
Zungangishiyi lana”
“Jerusalem is my huis, beskerm my, loop saam met my, moet my nie hier los nie.”
Dié refrein wat deur die lied en oor die wêreld heen weerklink, spreek boekdele vir elkeen van ons.
Oor die laaste paar maande het hierdie lied deur verskeie luidsprekers regoor die wêreld gesing. Met die oorspronklike video het die Jerusalema lied meer as 123 miljoen kykers gelok en lande aan die dans gesit sonder dat ons werklik iets van die lied se oorsprong weet.
Die dans het eers bekend geword nadat ’n groep dansers in Angola ’n hupstoot aan die lied gegee het en dit op sosiale media gedeel het; van daar af het dit soos ’n veldbrand oor sosiale media heen versprei. Duisende, diverse individue oor die wêreld heen is al deur hierdie lied verenig. Die hoofkunstenaar, Kgaugelo Moagi (Master KG), kom self uit Suid-Afrika, waar hy van jongs af musiek in die gemak van sy eie slaapkamer gemaak het.
Met die COVID-19 pandemie, wat ons 2020-jaar onkant gegooi het, is hierdie lied vir elkeen ’n geskenk. Dit is ’n pakkie positiwiteit gegee aan elke persoon wat daarna luister. Al weet ‘n mens nie eens wat die woorde beteken nie lig dit jou gemoed en stel jou dadelik positief in. ’n Mens sien op sosiale media – veral Facebook – hoe verskeie lande, onder andere Swede, Frankryk en Kanada hierdie dans op die dakke van geboue uitvoer. Op hierdie stadium sukkel afdelings soos sport en kultuur met die pandemie, maar hierdie lied het vir mense nuwe lig in die donker tonnel laat skyn. Ons almal kon verenig en die vreugde deel – al was dit op ’n sosiale afstand.
Die Larries het self hierdie dans aangepak en van oor tot oor geglimlag. Met die grasgroen astro onder ons voete versprei, dans ons met vreugde en trots. Al is 2020 ’n jaar wat ons nooit onsself sou kon verbeel nie is daar tóg nog hoop vir die toekoms.
-Bianca Van der Walt