Welkome veranderinge: die positiewe sy van die pandemie
Inge van der Westhuizen
Covid-19 het oor die afgelope paar maande ons almal se lewens drasties verander. Vir die meeste van ons was die inperkingstyd ʼn reuse uitdaging en ons was dankbaar om ons eensame kamers agter te laat met ons terugkeer skool toe.
Graad vir graad het ons gemasker aangemeld – net om te besef dat skool ook nie meer dieselfde is nie. Die daaglikse ongeriewe soos maskers en ander voorsorgmaatreëls het deel van ons lewens geword met geen vooruitsig om binnekort daarvan ontslae te raak nie. Die “ou” skoolwêreld waarna ons só verlang het, lê vir eers byna vergete in die verlede terwyl ons ons verliese en teleurstelling verwerk.
Gelukkig het hierdie donker wolk, soos die meeste ander, ook ‘n silwer randjie. Die inperking het veroorsaak dat ons skool baie vinnig by die nuwe omstandighede moes aanpas. Ons rekenaars en selfone het ons enigste noodlyn na die buitewêreld geword en ons het byna oornag vertroud geraak met platforms soos Zoom en Teams. Ons het vinnig gewoond geraak aan onderwysers en klasmaats in netjiese blokkies op ons rekenaarskerms. Hierdie ervaring en flukse oorskakeling het ons rekenaarvaardighede verbeter en gewys hoe aanpasbaar ons kan wees.
Met ons skool se sak-en-pak-verhuising na nuwe, aanlyn adresse het onderwysers lesse opgeneem en aanlyn geplaas sodat leerders toegang daartoe kon hê. Aanvanklike onsekerheid oor hoe effektief dit sou wees, het vinnig verdwyn toe ons die voordele daarvan besef. Dit maak dit maklik vir leerders om weer terug te gaan na die onderwyser se verduideliking indien hulle sukkel om iets te verstaan. Leerders wat vinnig verstaan, het nie nodig om vir die res van die klas te wag nie terwyl leerders wat ‘n bietjie meer tyd nodig het die kans gegun word om teen hulle eie tempo deur die les te werk. Dit vergemaklik ook studeerwerk omdat leerders weer na lesse kan kyk indien nodig. Vir diegene wat soms ongesteld is, bied dit ook die geleentheid om lesse in te haal.
Nog ‘n welkome, positiewe draai van die pandemie was dat opvoeders meer sensitief was vir leerders se omstandighede. Leerders kon beter funksioneer onder redelik minder druk en die aanpassings aan die skooldag het dit moontlik gemaak dat werk gedurende klastyd heeltemal afgehandel kon word. Die skooldag het dit selfs toegelaat dat sommige huiswerk gedurende skooltyd afgehandel kon word. Terwyl ‘n rooster met langer periodes en meer pouses waarskynlik nie kan voortgaan wanneer die wêreld weer normaliseer nie glo ek dat waardevolle lesse oor aanpasbaarheid en sensitiwiteit teenoor leerders geleer is. Hopelik sal ons opvoeders nie hierdie benadering laat vaar nie – veral wanneer druk met toetse en buitemuurs weer begin intree.
Alhoewel die meeste van ons heimlik wens om maskers en sosiale distansiëring in 2020 agter te laat, is ons nuutgevonde bewustheid oor gesondheid en die verspreiding van virusse ‘n waardevolle nalatenskap van die pandemie. Nuwe, strenger ontmettings- en higiëne-maatreëls is by die skool en in klaskamers ingestel om leerders en personeel teen die verspreiding van die virus te beskerm. Dit is ‘n goeie gewoonte wat ons beslis kan behou om onsself in die toekoms teen ander ongewenste virusse te beskerm.
Ons het geleer om anders na die lewe te kyk en te soek na alternatiewe indien ons nie soos normaal kan voortgaan nie. Oral om ons het mense dit reggekry om aan te pas en steeds hul passies uit te leef. Soos ons lewens verloop, sal ons kan terugkyk en onthou dat nie eens ʼn pandemie ons kon keer om steeds ons passies uit te leef nie.
Covid-19 het baie dinge verander. Baie daarvan was sleg. Dit is egter ons verantwoordelikheid om daaruit te leer en om niks weer as vanselfsprekend te aanvaar nie. Mag ons die waardevolle lesse van 2020 bewaar en die toekoms met nuwe bravade en dankbaarheid betree.