Sukses: begeerte van die mens
Bianca van der Walt
Ons leef in ‘n wêreld waar die meerderheid van mense graag sukses wil behaal, maar slegs ‘n klein hoeveelheid wel bereid is om daarvoor te werk.
Ons hoor van talle suksesvolle mense soos Bill Gates, Steve Jobs en Kamala Harris en wonder dikwels of daar ‘n stap-vir-stap resep vir sukses is.
As kinders het die volwassenes vertel dat ons enigiets kan wees wat ons harte begeer, maar soos ons ouer word, besef ons dat daar egter meer faktore is wat in ag geneem moet word vir hierdie stelling om waar te wees.
Met tyd leer ons dat sukses nie aangebore is nie, maar harde werk en baie tyd verg. Daar is geen formule, soos wat baie mense sal hoop, vir sukses nie. Elke individu is met hul eie tempo en koers op pad na sukses.
Amy Cudding, ‘n sosiale sielkundige, glo dat mens eers jouself goed moet ken, bewus moet wees van jou belangstellings en werklik in jouself moet glo voor jy sukses kan bereik. Wanneer mens nie in jouself glo nie, is dit dikwels moeilik vir iemand anders om genoeg in jou te glo om deure vir jou oop te maak.
‘n Algemene wanopvatting oor sukses is dat mens uiters slim moet wees en talle kwalifikasies moet hȇ om suksesvol te wees. Dit is belangrik om te besef dat sukses nie ‘n matrieksertifkaat of ‘n doktersgraad verg nie! Ja, dit is belangrik om opleiding en ondervinding bymekaar te maak, maar wat mense moet besef is dat opleiding en ondervinding nie slegs by ‘n skool of in ‘n boek gevind word nie: die wȇreld is ‘n skool.
Daar gebeur daagliks dinge rondom ons waaruit ons kan leer, en belangriker as enige kwalifikasie is dat ons geleenthede om iets te leer, raaksien. Dikwels kyk ons in skool en opvoeding vas en loop talle geleenthede mis, omdat ons glo dat akademie, eerder as geluk, sukses beteken.
Sukses is soos ‘n dwelm, in die sin dat mens nie genoeg daarvan kan kry sodra jy ‘n smakie gehad het nie. Om sukses te bereik is nie maklik nie en niemand kan seker wees hoe om dit te bereik nie, maar wat wel seker is, is dat harde werk en ‘n passie vir die lewe jou op die regte koers plaas, want ‘n lewe vol vreugde, liefde, dankbaarheid en passie is altyd suksesvol.