WAAROOR GAAN DIE HELE DEBAT RONDOM WHATSAPP?
deur Liana Human
Die meeste van ons weet teen hierdie tyd dat die maatskappy Facebook die kletstoepassing, WhatsApp, oorgekoop het. WhatsApp het aan die einde van 2020 ’n nuwe veiligheidsbeleid bekendgestel. Verbruikers moet teen 15 Mei 2021 hierdie nuwe veiligheidsbeleid aanvaar indien hulle steeds gebruik wil maak van hierdie gewilde klets-toeppassing. Die Avanti wil graag jou kennis oor die onderwerp uitbrei deur die volgende vrae te beantwoord.
Wat sê WhatsApp oor hulle nuwe veiligheidsbeleid?
WhatsApp sê dat hulle verbruikers se inligting met die Facebook-maatskappye wil deel om die diens aan die verbruiker te verbeter, inligting te verifieer en verbruikers se profiele te beveilig.
Is dit veilig om WhatsApp toe te laat om my inligting met Facebook te deel?
WhatsApp deel sedert 2016 reeds van jou inligting.
’n Artikel getiteld “Regering wil Facebook in bek ruk” wat op 4 Maart 2021 op Netwerk 24gepubliseer is, dui aan dat WhatsApp amptelik toestemming moet kry voordat hulle jou inligting kan deel. Die informasie-reguleerder van Suid-Afrika (IR) het Facebook Suid-Afrika ingelig dat sy bekommerd is dat die nuwe beleid nie aan die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) voldoen nie. Sy versoek Facebook om die beleid te hersien.
As Suid-Afrikaanse reguleerders nie gemaklik is met die deel van persoonlike inligting nie sal verbruikers dus mooi moet nadink oor die aanvaarding van WhatsApp se nuwe beleid.
Ek aanvaar nie die nuwe beleid nie… wat nou?
Volgens ’n artikel wat op 22 Februarie 2021 op Netwerk 24 met die titel, “Dís wat gebeur as jy nie die WhatsApp-beleid aanvaar” geplaas is, sal jy vir ’n kort tydjie na die spertyd ’n weergawe van WhatsApp met beperkte funksies kan gebruik. Jy sal nie boodskappe kan lees of stuur nie, maar wel oproepe en kennisgewings kan ontvang.
Indien jy nié die aanvaar-knoppie druk nie, sal WhatsApp jou rekening na 15 Mei 2021 onaktief verklaar. Volgens WhatsApp se beleid sal ’n profiel wat onaktief is na 120 dae verwyder word en al jou inligting sal verwyder word. Na die inligting verwyder is, kan jy dit nie herwin nie.
… wat staan my te doen?
Jy het geen ander keuse as om jou WhatsApp–profiel van kant te maak en van kletstoep te verander of die beleid te aanvaar nie. Van die alternatiewe tot jou beskikking sluit in: Element, WeChat, Telegram, Signal, die poskantoor of om ’n graad agt met ’n briefie te stuur. Die voordeel van die Telegram-toep is dat jy al jou WhatsApp-gesprekke net so kan oorskuif na die toep.
Ek aanvaar die nuwe beleid… is ek in gevaar?
WhatsApp het al sy verbruikers verseker dat hulle boodskappe en oproepe gekodeer is en dat niemand dit kan kan lees of luister nie. WhatsApp deel ook nie jou kontaklys met Facebook nie. Volgens WhatsApp se hulp-bladsy deel hulle die volgende inligting met Facebook: profielregistrasie soos jou selfoonnommer, met watter besighede jy in kontak is op WhatsApp, jou IP-adres, inligting oor jou mobiele toestel ensovoorts.
Volgens WhatsApp se hulp-bladsy deel WhatsApp jou inligting met die Facebook–maatskappye – selfs al het jy nie ’n Facebook-profiel nie.
Terugvoering van mede-Larries
Die terugvoer van Larries, wat meestal anoniem wou bly, was uiters uiteenlopend. Dit het gewissel van aanvaarding tot ’n wag-en-sien-benadering wat moontlik dui op ons oningeligtheid oor die onderwerp. Hulle het besorgdheid uitgespreek oor die moontlike verlies van gevestigde kommunikasiegroepe en kontakte.