RELATABLENESS
Hoekom gee ons voor om te verstaan?
Mia Blaauw
“Ugh, ek haat daai juffrou, sy het vir my ‘n debiet gegee omdat my boek by die huis was, maar my huiswerk wás gedoen!” uiter Susan. Gerda gee ‘n huiwerige antwoord: “Ja-nee, sy weet mos jy doen altyd jou huiswerk. Hoekom gee sy nou ewe skielik vir jou debiete?” Gerda weet hoekom, maar sy bly stil, want sy wil relate.
Alhoewel die Engelse woordeboek nie relatableness* as ‘n amptelike woord verklaar nie, is dit in vandag se samelewing ‘n ongeskrewe reël wat gevolg word. Ons hoop hoop dat ons vermoë om iemand se perspektief te sien of met hulle saam te stem tot aanvaarding sal lei. Ons almal was al voorheen in Gerda se situasie, maar wonder ons ooit hoekom hierdie begeerte om “te verstaan” bestaan?
Skrywers sukkel dikwels daarmee om karakters relatable te maak om lesers te lok. Dit is omdat mense natuurlik aangetrokke is tot mense en gevoelens waarmee hulle kan identifiseer.
Net soos skrywers, raak die fasade wat ons opsit wanneer ons probéér om aanklank by iemand te vind emosioneel uitmergelend. Jy moet konstant aanpasbaar wees – slim, maar nie te slim nie; suksesvol, maar nie te suksesvol nie en snaaks, maar nie te snaaks nie.
Hoe jy wil hê mense jou moet sien, hang af van die mense by wie jy aanklank vind. As ‘n sekere groep mense wat jy wil beïndruk, ‘n sekere opinie het, voel jy dikwels verplig om saam te stem deur te relate. Dit weerhou jou daarvan om jou eie unieke en persoonlike opinies te lewer en belemmer dus die ontwikkeling van kritiese denke.
Relatableness is ‘n woord waarby almal kan aanklank vind, want ons elkeen is skuldig daaraan om iemand te wees wat ons nie werklik is nie met die doel om relatable te wees. Ons probeer aanvaar word, wanneer ons eintlik net kan wees wie en wat ons wil wees – uniek.
*Relatableness is nie ‘n woord wat in die woordeboek opgeneem is nie, maar is algemeen in vandag se tienner-spreektaal. Daar is dus nie ‘n Afrikaanse ekwivalent nie, maar dit verwys na die vermoë om by iemand aanklank te probeer vind deur te wys dat jy hulle situasie verstaan en met hulle oor iets saamstem.