Om jouself (en anders) te wees…
Bianca Van der Walt
“To be yourself in a world that is constantly trying to make you something else, is the greatest accomplishment.” – Ralph Waldo Emerson.
Hoërskool is ’n fase in jou lewe waartydens jy dikwels net daarna streef om jou kop bo water te hou. Tog is dit ook die tyd wat gekenmerk word deur individualiteit en die ontdekking van jou eie identiteit. Van kleins af word ons geleer dat jy jouself kan wees en anders mág wees. Wanneer jy egter as tiener die grense van andersheid begin toets, vind jy dikwels dat die wêreld nie juis weet hoe om hierdie andersheid te hanteer nie.
Tieners het dikwels die begeerte om hulleself te wees en aanvaar te word vir wie hulle werklik is, maar tog is baie van hulle bang om hul ware self aan die wêreld ten toon te stel. In ’n skool soos La Rochelle is leerders divers en uniek. Ons elkeen het ’n ander storie om te vertel – ons kom almal van verskillende kulture, families, groepe en gemeenskappe, ons behoort nie in boksies nie.
Al hierdie verskille kan oorweldigend wees, maar dit is die moeite werd om van hierdie verskille te leer – al verstaan jy dit nie altyd nie. Verskille is wat ons uniek maak, glo dit of nie. Dink aan ’n wêreld waar almal dieselfde is – na dieselfde musiek luister, dieselfde tipe klere dra, waar ons almal se breine dieselfde funksioneer. Dink net watter katastrofe dit sou wees. Ons sou in ’n eindlose lus vasgekeer wees. Geen nuwe idees nie; elke dag dieselfde.
Ons is bevoorreg om in ’n skool te wees waar ons aanvaar word vir wie ons is deur die onderwysers en somtyds deur mede-leerders. Tog is daar mense om ons wat voel dat hulle nie aanvaar word vir wie hulle is nie. Ek is self anders, baie anders as die mense by wie ek elke oggend verby stap, en my grootste bekommernis is hoe my mede-leerders nie mekaar se individualiteit waardeer nie.
Ons is in ’n skool met ’n diverse groep mense, maar dit beteken nie omdat hulle anders is as jy dat hulle minder respek verdien nie. Dit is tyd dat ons mekaar begin respekteer, by mekaar leer en elke unieke blom waardeer. La Rochelle is ’n omgewing waar jy veilig kan voel, individualiteit skei ons nie van mekaar nie, dit bring ons eintlik as ’n geheel saam.
Wees anders. Wees jouself. Wees uniek. Maar respekteer ander wat dieselfde doen.