Charlie se nuuskierigheid lei tot uitstaande navorsingstaak

Iris Saunders

Charlie Engelbrecht, ’n graad 12-leerder aan Hoër Meisieskool La Rochelle, wen op 4 Augustus 2022 die prys vir die beste navorsingstaak in ingenieurswese by die ESKOM expo for young scientists te Stellenbosch.

Charlie het ’n metode ontwikkel om die konsentrasie van alkohol te toets met ‘n mobiele, battery-aangedrewe toestel en ’n maklik bekombare oplossing wat nie in ’n yskas verberg hoef te word nie.

’n Jodium en natriumhidroksied oplossing vorm ’n geel neerslag in die teenwoordigheid van alkohol. Charlie het ’n metode ontwikkel waar ’n fotometer die lig wat ’n LED-gloeilamp deur die oplossing skyn, meet. Hoe meer alkohol, hoe geler word die oplossing in die teenwoorigheid van jodium en natriumhidroksied en hoe minder lig word deur deur die oplossing deurgelaat. Dus kon sy ’n fotometer-lesing aan verskillende alkoholkonsentrasies toeskryf.

Tans word duur laboratoriumtoetse gebruik om alkoholkonsentrasie te toets en Charlie se uitvindsel is ’n koste-effektiewe en innoverende alternatief. Charlie se toets stel dus mense in lande, waar daar nie toegang tot sulke laborotoriums, is nie in staat om alkoholkonsentrasie te bepaal.

Charlie sê dat haar hele projek ontstaan het omdat sy agterdogtig geraak het oor of winkelsentrums hulle handreiniger verdun om geld te bespaar. Hierdie agterdog en nuuskierigheid, saam met deursettingsvermoë, het nie net vir Charlie ’n prys losgeslaan nie, maar baan nou ook die weg vir ander innoverende projekte.