Interskole: Meer as rugby

deur Inge van der Westhuizen

Talle van ons het Saterdag, 30 Julie, in die reën by Faure Stadion na die finale rugbywedstryd tussen Hoër Jongenskool Paarl en Hoërskool Paarl Gimnasium gaan kyk. Verskeie van ons dogters het vir die eerste keer die gelaaide atmosfeer van die grootste interskole-wedywering ter wêreld ervaar. Hulle was moontlik verbaas om te beleef hoe verskillende generasies – van skoolkinders tot bejaardes – saam hul skool se skoollied uit volle bors kan sing, hoe volgroeide mans weer die trots van skoolseuns kan vertoon, en hoe die grond onder ’n mens se voete werklik met opwinding en energie kan bewe.

Terwyl van ons vreeslik gelukkig en ander diep teleurgesteld was met die resultate van hierdie jaar se wedstryd, kon ons almal wel waardeer dat ons uiteindelik, na die kompetisie se lang hiatus oor die afgelope twee jaar, weer so ’n groot sportbyeenkoms kon ervaar.

Die Interskole tussen Hoër Jongenskool Paarl, Hoër Meisieskool Paarl en Hoërskool Paarl Gimnasium is niks nuuts is nie, maar hierdie sport-skouspel verdeel vir meer as ’n 100 jaar die Paarl in groen en blou. In 1915 is die eerste wedstryd tussen skoolseuns, “old boys,” en meesters gespeel, maar dit was eers in 1927 dat die Interskole rugbywedstryde eksklusief vir skoolseuns geword het. Interskole, soos ons dit vandag ken, het amptelik in 1929 gevorm.

Oor die jare, is die toernooi slegs drie maal gekanselleer: in 1928 weens redes wat, met die verloop van tyd, verlore gegaan het, en in 2020 en 2021 vir redes wat al te bekend aan ons is – die Covid-19-pandemie. Sedert 1915 was daar al 11 wedstryde wat gelykop gespeel het (waarvan drie 0-0 was), en die gemiddelde wenmarge was slegs 5 in die laaste 100 wedstryde. Dit is vir ons ’n goeie aanduiding van hoe sterk die kompetisie is. Hierdie jaar het Boys’ High ’n oorwinning van 26-24 in die finale rugbywedstryd behaal, en dus die 104de Interskolebeker verower.

Dr. Danie Craven, ’n Suid-Afrikaanse rugbylegende, het die volgende oor die Paarl se Interskole te sê gehad: “Die geesdrif en die welslae van julle Interskole het my moed gegee en ek wil hoop dat baie meer skole julle voorbeeld sal volg.”

Interskole het as’n sportbyeenkoms begjn, maar mettertyd het dit gegroei tot ’n feesviering van menswees, ’n geleentheid vir ’n hele dorp om saam te span, en ’n week van gesonde kompetisie en pret. Buiten die finale wedstryd, gaan daar reunies, “big brags,” formele geleenthede en geesbou met so ’n byeenkoms gepaard. Dit beteken dus dat interskole (of hulle belangstel in sport of nie) ’n wonderlike tradisie vir die inwoners van die Paarl is.  Vir een week in ’n jaar bring sport jonk en oud saam, en word ons herinner aan die voorreg wat ons het om deel te wees van ’n dorp wat ryk is aan tradisie.

Bronne:
Historic Overview Paarl Boys’ High School vs Paarl Gimnasium 2022 by www.CHILLIES.co.za, published 27 July 2022