Die lot van die Afgaanse vrou
Iris Saunders
Verbeel jou jy word môreoggend wakker en jy is weer in die Suid-Afrika van 30 jaar gelede. Die ou regime is weereens aan bewind, maar belowe plegtig om nooit weer rassisties te wees nie. Sou jy hulle geglo het?
Hierdie is die einste penarie waarin die vrouens van Afghanistan hulself bevind. Die Taliban is die Islamitiese fundamentaliste in wie se hande die lot van Afghaanse vrouens rus. In die verlede het hierdie groep vroueregte heeltemal verontagsaam. As gevolg van die Taliban-heerskappy kon vrouens en meisies nie werk of skoolgaan tussen 1994 en 2001 nie. Hulle is verplig om hul gesigte en die totale oppervlakte van hul liggame te bedek, en kon slegs die huis verlaat as hulle deur ’n manlike familielid vergesel is.
Die Taliban het oorspronklik beheer oor die land verkry in omstandighede wat soortgelyk was aan Afghanistan se huidige situasie – toe Rusland in 1989 uit die land onttrek het.
Toe die VSA na die 9/11-aanvalle Afghanistan binnegeval en die Taliban van hul kans ontneem om oor Afghanistan te regeer het omstandighede vir die vroue van die land aansienlik verbeter. Hulle het toegang tot onderrig ontvang, nie meer nodig gehad om volgens die streng reëls aan te trek nie en kon vrylik op hul eie beweeg. Meer as ’n derde van Afghaanse tienermeisies kan nou lees en skryf, en Afghaanse vrouens het selfs aan die Olimpiese en Paralimpiese spele deelgeneem.
Na 20 jaar van oorlog het oudpresident Donald Trump van die VSA aangekondig dat die Amerikaanse besettingsmagte uit Afghanistan sou onttrek. President Joe Biden het ’n gewaagde stelling gemaak oor die klein waarskynlikheid dat die Taliban vinnig weer oor sal neem.
Hy kon nie meer verkeerd gewees het nie. Die Taliban het binne enkele dae Kaboel, die hoofstad, oorgeneem.
Die Taliban het toe vanuit die presidentiële paleis aangekondig dat hulle beplan om vroueregte binne die raamwerk van Islamitiese wette te respekteer (‘n raamwerk wat hulle tot dusver nie kon definieer nie). Hierdie uitsprake of ‘beloftes’ van die Taliban is egter nie geloofwaardig nie. Die openbare teregstellings tekenend van hul vorige regime word deesdae weer hervat, alhoewel hulle hoog en laag gesweer het om hierdie wreedheid te staak.
Bykans oornag is die vroue van Afghanistan weer waar hulle meer as 20 jaar gelede was. Alle vrouens moet tans weer deur ’n manlike familielid vergesel word. Besighede het uit vrees hul vroulike werknemers (wat in sommige gevalle die enigste broodwinners van hul gesinne is) afgedank, en sommige vrouens het uit vrees vir hul eie lewens self bedank. Alle musiek is verban en musiekleerders moes hul instrumente na hul musiekskole neem – met geen hoop om ooit weer terug te keer nie. Skoonheidsalonne moes selfs al hul prente van vrouens toeverf.
Vrouens is nie net bang en onseker omdat hul toekomsdrome nou in gedrang is nie, maar hulle vrees dat hulle moontlik vervolg kan word omdat hulle die Taliban se reëls tydens die 20-jaar oorlogstyd gebreek het. ’n Vroulike joernalis, wat ‘n onderhoud met die Taliban gevoer het, moes dringend landuit vlug en ’n vroulike burgemeester is ontvoer.
As ’n Afghaanse vrou, kan jy nie meer jou gunstelling ligblou rokkie dra, in ’n koffiewinkel met jou vriendinne gesels, of van publieke vervoer gebruik maak nie. Dit wat eens normaal was, is skielik nie meer so vanselfsprekend nie.
In Suid-Afrika voel ons dikwels of ons baie outyds is, aangesien ons nie soos Switserland vir die omgewing baklei nie. Ons is slegs aan die begin van die stryd vir die “neurodivergency”-gemeenskap. Ten minste glo ons egter dat basiese vroueregte ’n gegewe minimum is, en word vroue se regte deur die grondwet beskerm. Al is ons stryd vir vroueregte een wat nog daagliks in ons midde geveg word, is dít wat ons wel in Suid-Afrika het ’n luukse teenoor die realiteit wat die Afghaanse vroue in die gesig staar.