Robotte en akademiese reuse: die gr.9’s wys hul staal in 2021 se Robotika- en Wetenskap-ekspo

Iris Saunders

Why did the robot cross the road?

The chicken programmed it.

2021 se Robotika- en Wetenskap-ekspo was ‘n reuse sukses ten spyte van ‘n sekere vermiste hamburger. Die leersentrum was gevul met alles  – van die handeklap-ligte wat jy net op televisie sien tot kat-deure! Vier pryse is aan vier leerders se projekte toegeken.

Beste Wetenskap Navorsingsprojek:

Aimee van Wyk is baie geïnteresseerd in hernubare bronne van energie. Haar projek het dus oor die opwekking van hidro-elektriese energie gegaan. Sy wou bepaal hoeveel lemme teen watter hoeke optimaal sal wees vir die opwek van hidro-energie en het bepaal dat drie lemme teen 18 grade die effektiefste kombinasie is. Sy het selfs lemme laat 3D-druk (print) vir die geleentheid!

Wetenskap-opvoeders toekenning:

Robyn Hinderberger en Keira-Lee Koekemoer se hamburger het dalk op die dag van die ekspo verdwyn, maar dit het hierdie paar nie gestop nie. Hulle projek het gehandel oor die preserveermiddels in wegneemetes. Hulle het burgers laat muf en hoe vinniger en meer die burger gemuf het, hoe minder preserveermiddels bevat dit en hoe gesonder is dit.

Beste Robotika Projek:

Ayesha Hendricks en Jeannette Müggenburg het ‘n blou robot ontwerp wat leerders kan help om die grootste afleiding tydens studiesessies  – jou selfoon – te bestuur. Jy bêre jou selfoon in die robot en jy stel die “flash”-funksie vir Microsoft Teams-boodskappe. Wanneer jy dan ‘n boodskap op Teams kry, sal die robot ‘n melodie speel en jy sal weet om die boodskap te lees. Jy kan dit ook so stel vir Whatsapp-boodskappe, ens.

Robotika “Teachers’ Choice” toekenning:

Veral koshuisleerders sukkel om hulle plante lewendig te hou omdat hierdie plantjies naweke alleen in die koshuis moet agterbly. Kyla Vienings en Mila Malherbe het ‘n robot ontwerp wat hierdie probleem oplos. Hierdie slim robot meet die vogtigheid van die grond en as dit droog is, skakel dit ‘n pomp aan wat die plant natmaak. Beslis ‘n idee vir plantliefhebbers se Kersgeskenk-lysie.

2021 se graad 9-leerders het hulself oortref! Hopelik word meneer Meades en juffrou Naudé eendag in ’n paar Nobel-pryswenners se toesprake bedank.