En toe staan Hoërskool voor die Daisies se deur

Anique Mouton

 

Verbeel jou dit is Woensdagoggend, 19 Januarie 2022.  Jy het jou nuwe blommerokkie aan, jou skoolskoene is blink gepolletoer en jou hare is netjies vasgemaak.  Die eerste dag van hoërskool het aangebreek!  Dit is effens intimiderend, aangesien jy nog verlede jaar ‘n senior in die laerskool was en nou weer skielik van die heel laagste trappie van die leer boontoe moet klim.  Skielik het jy ’n Milady wat jou mentor is, pligte wat van jou as ‘n Daisy verwag word, ‘n onbekende skool waarmee jy gemaklik moet word, en sportvelde wat wag om verken te word.  Ons eie graad 8-meisies was maar net ‘n paar maande gelede daar: die eerste dag van hoërskool.  Hoe het hulle die uitdagings en opwinding hiervan die hoof gebied?

Die meerderheid van die graad 8-Larries sal die eerste kwartaal van hoërskool as opwindend, ongelooflik en onvergeetlik beskryf.  Oor die eerste paar weke ontmoet al die Daisies die vriende waarmee hulle die laaste paar jare van kindwees sal deurbring, die onderwysers wat hulle deur al die jare van die hoërskool sal lei, en hul eie Miladies wat as hul ouer sussies vir die jaar sal optree.  Veral as die meisies ’n noue band met hul Milady gevorm het, kan hulle die eerste kwaartaal sonder onnodige angs geniet omdat hulle weet dat hul Milady hulle 100% ondersteun en sal seker maak dat hulle gemaklik in die skool sal aanpas.

Die eerste kwartaal is egter baie besig wat dit moontlik vir die nuwe leerders moeilik kan maak om aan te pas by die vinnige pas waarteen daar gewerk word.  Die graad 8’s van 2022 is egter ‘n sterk, standvastige groep leerders wat fantasties by hierdie uitdagings aangepas het.  Hulle het ongelooflik baie gees en pak alles met die kenmerkende Larrie-houding aan.

Die “koshuis-brakkies” het net so goed aangepas.  Dit is aanvanklik ‘n reuse aanpassing vir die graad 8’s in die koshuis, maar sodra hulle hul voete gevind het, sal hulle besef dat die koshuis werklik deel van die beste herinneringe van die hoërskool vorm.  Alhoewel die Daisies nie 4M kon bywoon nie het hulle definitief in die koshuis van die 4M-gevoel ervaar – vanaf musiek wat vroegoggend oor die interkom gespeel is, tot die geesbou sangsessies wat in die aand gehou is.  Die koshuis-Daisies sê dat hulle vinniger deel van die Larrie-familie as die dorpies gevoel het, aangesien die pret vir hulle nie kwart-oor-2 gestop het nie, maar eers 10 uur die aand.

Alhoewel dit ‘n uitdagende fase van die lewe is, pak ons Larrie-Daisies die begin van hoërskool met dapperheid en deernis aan.  Mag hulle as nuwe lede van die Larrie-familie blom!