‘n Kykie in mevrou Conradie se kantoor
Iris Saunders loer by mev. Conradie in om uit te vind wat ons nuwe skoolhoof se stokperdjies, strategieë en sterreteken is.
Elke skool het ’n unieke karakter en as ’n mens daaroor nadink, besef jy hoe ’n groot aandeel die skoolhoof aan daardie karakter het. Vir ‘n skool soos La Rochelle, met ‘n karakter wat waarlik enig in haar soort is, is dit noodsaaklik dat ons ‘n skoolhoof het wat nie net die kern en tradisies van ons skool kan behou nie, maar ook innoverende nuwe idees kan voorstel.
Vanaf die eerste kwartaal van 2022 is almal baie opgewonde en nuuskierig oor ons nuwe skoolhoof, mevrou Conradie. Die Avanti het besluit om meer oor ons nuwe stuurvrou te gaan uit vind.
Waar het Juffrou groot geword?
Ek het groot geword in die Oos-Kaap; in ‘n klein dorpie met die naam Cradock. Ek is een van vier kinders en dit was lekker om op die platteland groot te word.
Wat is Juffrou se sterreteken?
Ek is ’n kreef.
Watter stokperdjies beoefen Juffrou?
Eerstens is ek ‘n boekwurm. Ek lees saam met my seun fantasie-verhale soos The hobbit en saam met my dogter lees ek historiese fiksie. Ek lees ook graag misteries. Ek speel ook gholf en gaan stap graag in die berg saam met my man en kinders.
Speel Juffrou enige musiekinstrumente?
Ek het op skool die klavier en trompet bespeel, maar deesdae sal ek nie myself as ‘n musikant beskryf nie.
Juffrou was vir ‘n lang tyd ‘n onderwyseres en skielik moes Juffrou die klaskamer vir ‘n kantoor verruil. Watter aspekte van die klaskamer mis Juffrou die meeste?
Ek mis veral die graad 11’s en 12’s. Ek mis daardie verhouding wat ‘n mens met die leerders bou. Ek weet ek is baie lief vir Rekeningkunde – is dit waar my vaardigheid is – en dit is mos lekker om iets oor te dra waarin ’n mens weet jy goed is.
Hoe sal Juffrou die gevoel beskryf wat ’n mens kry as ’n mens La Rochelle se skoolgronde betree?
Dit is vir my ’n sagte omgewing met baie aanvaarding. Die feit dat leerders regtig hulself kan wees, is vir my baie spesiaal.
Ons kom agter dat Juffrou baie klem op die personeel se verhouding met mekaar plaas. Waarom?
Ek glo die personeel is die skool se belangrikste bate. Daarom is hulle die heel belangrikste.
Ons skool heg baie waarde aan die geestesgesondheid van leerders. Het Juffrou enige idees om daardie aspek van ons skool verder te verbeter?
Ek dink dis baie belangrik vir leerders om te voel of hulle aan iets behoort. Daarom wil ek deelname aanmoedig. Ons wil ook graag elkeen voel ons maak ‘n verskil. Dan sê William Glasser, ‘n sielkundige, dat ons ander twee behoeftes pret en vryheid is. Ek voel dat die leerders verantwoordelik genoeg is dat ons vir hulle vryheid kan gee en dat hulle nie heeltyd opgepas moet word nie. Daarmee saam moet ons ook lekker dinge doen wat ons laat lag.
Ons het gesien dat die program vir saalbyeenkomste nou op die bord is. Dit laat ons meer in beheer van ons eie dag voel. Het Juffrou ander idees vir klein veranderinge wat vir ons meer struktuur kan bied?
Dit was eintlik net om myself te help, want ek hou van struktuur. Ek sal ook graag wou hê dat ons die skool se kalender met julle deel sodat julle naweke kan beplan en bewus kan wees van wat wanneer gaan gebeur.
Ons is dankbaar dat mev. Conradie ’n tydjie in haar besige dag afstaan om met ons te gesels. Dit is voorwaar ‘n verfrissende ervaring om ‘n skoolhoof met soveeel energie en entoesiasme teë te kom. Ons nuwe skoolhoof glo dat ons self besluite kan neem. Sy glo dat ons moet voel ons behoort en dat ons ‘n verskil kan maak. Dit is duidelik dat haar innoverende idees die eiesoortige karakter van La Rochelle net meer gaan ontwikkel.