Larries Dansklub: dans dat die stof so staan.
Liana Human
La Rochelle se dansklub het tydens die Big Brag seremonie voor 4M, vir ons kom wys wat in hulle steek. By die kultuursaal van kwartaal twee was hulle danspassies weer die hoogtepunt van die dag. Die Avanti het gaan rondsnuffel om meer oor die klub en sy energieke lede uit te vind.
Lara Whatney, onder kaptein, en Arianne Floris, kaptein, is aan die stuur van hierdie klub. Hulle twee is ook die kreatiewe skeppers agter die indrukwekkende choreografie van die klub. Volgens Arianne vind hulle hul inspirasie in die musiek waarna hulle luister en deur na vorige danskompetisies te kyk. “En dan dans ons net!” sê sy.
Die dansklub is nie gefokus op ’n spesifike styl nie, maar eksperimenteer met verskeie style soos hip-hop, ritmiese gimnastiek, ensovoorts. Die Covid-19-pandemie het hulle ongelukkig verhoed om gedurende 2020-2021 aan kompetisies deel te neem. Tog sê Arianne dat hierdie valse noot nie hulle ritme gebreek het nie en dat hulle beslis in die nabye toekoms weer die voete op die maat van musiek gaan laat klap.
Mia Valentine, lid van die dansklub, stem saam met haar kaptein dat die klub ’n prettige buitemuurse aktiwiteit is waaraan enige iemand kan deelneem en groei. Die klub bied aan Larries die geleentheid om in ’n ontspanne omgewing aan hulle ritme en fiksheid te werk. Mia sê haar droom vir die klub is om te groei sodat meer Larries die geleentheid kan kry om hulself in dans uit te druk.
Arianne se visie vir die klub is om ’n ruimte te skep waar Larries hul liefde vir dans kan kom uitleef, terwyl hulle die danse geniet, vaardighede aanleer en dans dat die stof so staan.
Die dansklub kom Donderdae vannaf 14h30 tot 16h00 bymekaar. Arianne moedig alle Larries aan om te kom kyk wat hulle doen en saam te dans. “Enige persoon kan by die klub aansluit – ongeag hul dansvermoë,” sê sy.
Die dansklub se talent en vaardighede het die Larries absoluut verstom en ons is saam met die dansers opgewonde oor hulle toekoms. Ons hoop om hierdie jaar baie meer van die dansklub se danse by ons skoolaktiwiteite te sien en wens hulle flinke voete alle voorspoed toe.